Kredietkaartdrama
Kredietkaartdrama

Kredietkaartdrama

Gerine Hoff
Gerine Hoff - Mens dink altyd dit gaan nie met jou gebeur nie.

En dan skielik, soos ’n dief in die nag (of dag in hierdie geval), kry jy 15:30 op ’n Sondag ’n SMS wat sê daar was ’n peperduur transaksie op jy kredietkaart – by ’n luukse Skandanawiese klerewinkel. Een waar jy heel duidelik nie was nie. Jy staan dan immers in jou sitkamer in ’n warm Windhoek.

Jou eerste reaksie is ongeloof. Sien ek dalk verkeerd?

Dan volg paniek. Hoe nou gemaak?

Ek bel die betrokke bank se noodnommer – nogal ’n Windhoek nommer – net om by ’n call centre in Suid-Afrika te eindig.

Die mannetjie daar kan help om die kredietkaart te blok, maar kan niks doen om die transaksie te stop nie. Nee. Dit moet in Windhoek gedoen word. Seriously? Hoekom praat ek met iemand in SA? Waar is die local support? “Mevrou, bedaar asseblief,” sê hy. Wanneer in die geskiedenis van die wêreld het iemand al OOIT kalmeer as hulle dit hoor?

Daarna begin verskeie ander oproepe na plaaslike nommers. By ’n support centre is daar darem een stemmetjie wat luister (maar wat nie kan help nie) en nog verdere oproepe na SA – maar alles om dowe neute. Want – volgens die bandopnames wat ek nou nog by herhaling hoor – word elke oproep opgeneem, en is kantoorure Maandag tot Vrydag van 07:00 tot 19:00.

Die kredietkaartdiewe weet dit natuurlik, seker juis hoekom hulle op ’n Sondagmiddag heerlik gaan klere koop. Nie kruideniersware omdat hulle honger is nie, mind you.

En dit met die splinternuwe kredietkaart waarmee ek self nog nie gaan inkopies doen het nie.

Maandagoggend begin die eerste van nóg oproepe. “Mevrou, vul die dispuutvorm in en stuur dit vir ons terug,” sê die eerste persoon. So tussendeur sien ek ’n e-pos in reaksie tot die talle wat ek die Sondag begin stuur het.

Behalwe vir die diefstal, kom die besef: Ek het (weer) ’n nuwe kredietkaart nodig. Want sien, terwyl jou kaart geblok is en jy nie ’n nuwe kaart het nie, het jy ook nie toegang tot jou geld nie.

Dis toe nou juis hier waar die volgende probleme begin. Dame nommer 1 sê my nuwe kaart sal binne drie dae gereed wees. Bel op dag drie. Nee, sê meneer 2, dit is nou eers gedruk. Ek moet tussen sewe en tien dae wag. Nou goed.

’n Skamele drie ure later kry ek ’n SMS wat sê die nuwe kaart kan nou by ’n spesifieke tak opgetel word. Bel weer. Dame 3 tel op. Sê sy dis by ’n tak waar ek nog nooit voorheen was nie. Nee, sê sy, sy sit my na die krediekaartafdeling deur.

Vir die derde keer op een dag word ek afgesny.

Bel weer. Smeek vir meneer 4, moet my asb net nie probeer deursit nie, julle sny my af en niemand by die krediekaartafdeling antwoord die telefoon nie.

Tien minute later sê meneer 4 my nuwe kaart is eintlik by die hoofkantoor. Daar aangekom, besluit ek sommer om myself by die fraud department te gaan voorstel. Want blykbaar gaan ek in die volgende 90 dae terwyl my saak ondersoek word, BFFs met hierdie departement raak.

Nou ja, die einde van die kredietkaartdiefstal-sage is nog nie in sig nie en tot dusver was dit alles behalwe ’n walk in the park. Tussen telefoonoproepe wat meer as een keer afgesny is en bankpersoneel wat jou herwaarts en derwaarts stuur, gaan dit nog ’n láááng proses wees.

Die slotsom: Banke en tegnologie is nie jou vriend nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer