Kredietkaarte is koning

Net omdat kredietgroei nie meer buitensporig hoog is nie, beteken dit nie verbruikers moet weer na hartelus op skuld koop nie, sê die BoN.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy - Die hoër rentekoerssiklus van die afgelope 40 maande mag wel verbruikers se lus vir paaiementskuld gedemp het, maar hulle flits steeds fluks hul kredietkaarte.

“Namibiërs ''swipe'' baie,” het Ipumbu Shiimi, president van die Bank of Namibia (BoN), gister gesê. Die sentrale bank is egter nie uitermate bekommerd hieroor nie, het hy gesê.

Shiimi het dié opmerking tydens die BoN se laaste monetêre beleidsaankondiging vir vanjaar gemaak. ''n Verlangsaming in kredietgroei, veral onder verbruikers, was een van die redes vir die BoN se besluit om sy repokoers­ vir die tweede opeenvolgende keer onveranderd op 7% te laat. Dit beteken handelsbanke se prima-­uitleenkoers van 10,75% sal ook dieselfde bly.

Sedert veral verbruikers se bultende paaiementskuld die BoN in Junie 2014 genoop het om sy repokoers vir die eerste keer in byna twee jaar te verhoog, het die sentrale bank ses verhogings aangekondig – telkens stygings van 25 basispunte.

Dit het uiteindelik die gewenste uitwerking gehad: Die private sektor – verbruikers en die korporatiewe sektor saam – se paaiementskuld in Oktober was net meer as 7% hoër as in Oktober 2016. Van Oktober 2014 tot Oktober 2015 was dié syfer meer as 14%, terwyl dit die vorige jaar 17% oorskry het.

Ander lenings en voorskotte aan die private sektor – wat persoonlike banklenings en kredietkaarte insluit – groei egter teen dubbelsyfers. Ná dit van Maart tot Junie vanjaar telkens jaargroei van 31% oortref het, het dit begin afneem. In Oktober was dit 13,9%.

Dit is egter beduidend meer as die totale jaargroei van 10,23% in krediet wat in dié maand aan die private sektor toegestaan is.

Die feit dat ander lenings en voor­skotte ''n klein gedeelte van totale krediet aan die private sektor uitmaak, is nog ''n rede dat die BoN nie slapelose nagte oor die toename daarvan het nie. Teen die einde van Oktober het die private sektor in totaal bykans N$9,2 miljard aan ander lenings en voorskotte geskuld. Dit verteenwoordig sowat 10,8% van die private sektor se totale skuld van bykans N$84,6 miljard.

Groei in verbruikerskuld wat taan, is egter geen rede vir Namibiërs om weer op ''n kredietjol te gaan nie. “Koop net wat jy nodig het,” het Shiimi gemaan.

“Hierdie is uitdagende tye en dit verg buitengewone maatreëls soos spaar,” sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!