Kreef en tjokka laat Premier Fishing se syfers lóóp
Hanlie Stadler – Groot, sappige Suidkuskrewe – en baie daarvan – het die afgelope jaar in Premier Fishing & Brands se nette beland. Die maatskappy sê danksy die groter krewe was daar ’n 3%-styging in die dollarprys wat hy vir dié uitvoerproduk verdien het.
Die maatskappy se kreefafdeling kon danksy hoër volumes en prysstygings sy winsgrens behou, selfs al het die rand in die eerste helfte van sy boekjaar versterk.
Premier het ’n kwota van 135 ton Suidkuskreef.
Nog ’n afdeling van dié genoteerde vissery wat buitengewoon goed gevaar het, is sy afdeling vir tjokka. Vangste in die bedryf was “uitsonderlik” en Premier se vangste het meer as verdubbel vergeleke met verlede jaar.
Dis deels danksy Premier se verkryging van ’n belang van 50,31% in Talhado in die boekjaar, wat meegebring het dat Premier se getal tjokkabote van vier tot 22 gestyg het.
Die tjokka-afdeling se bedryfswins het met 431% gestyg.
In die geheel gesien, blink Premier Fishing & Brands se syfers vir die jaar tot einde Augustus soos ’n vars, nat snoek.
Die maatskappy se inkomste het met 20% tot R491 miljoen gestyg in die boekjaar tot einde Augustus. Sy bedryfswins is 41% hoër op R92 miljoen.
Die groep se wesensverdienste per aandeel het egter met 9% gedaal, wat toegeskryf word aan die groter aantal aandele wat by die som ingereken is. Dit het nog met die notering te make.
Premier Fishing is verlede jaar uit African Equity Empowerment Investments ontknoop en in Maart afsonderlik genoteer.
Dis een van drie genoteerde visserye in die land. Sea Harvest het net ’n week ná Premier genoteer; die reus van die bedryf is Oceana.
Premier het langtermynvisregte vir onder meer tjokka, kreef, klein diepseevis, stokvis, swaardvis en tuna. Die groep het ook perlemoenplase en verkoop organiese kunsmis onder sy handelsnaam Seagro.
Die stokvisafdeling het ook gespog met groter visse, maar weens onvoorsiene groot herstelwerk aan skepe het dié afdeling se bedryfswins gedaal.
Die groep is besig om sy perlemoenplase uit te brei en sal binnekort nog 40 ton perlemoen kan produseer. Die uitbreidings sal na verwagting in die eerste kwartaal van 2019 begin.
Die perlemoenafdeling probeer op die oomblik eers sy perlemoen laat groter word en het daarom die afgelope jaar minder perlemoen verkoop. Dit sal verkope in die nuwe boekjaar ’n hupstoot gee.
’n Dividend van 25c per aandeel word uitgekeer (2017: 15c). – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie