Krematorium werk onverpoos
Krematorium werk onverpoos

Krematorium werk onverpoos

Die oond moet eintlik net vier liggame per dag veras, maar in ’n poging om die agterstand te probeer inhaal, doen hulle nou vyf tot ses liggame per dag.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – “Dis die mooiste mense met die mooiste harte en gesindhede; as almal in Namibië maar so was.”

Dit was die kommentaar van ’n begrafnisondernemer gister oor personeel by die krematorium wat volgens haar “sewe dae per week” werk om die agterstand in die verassing van liggame uit die weg te probeer ruim.

Dié begrafnisondernemer wat self 11 liggame het wat op verassing wag en waarvan sommige reeds in Junie gesterf het, het gesê “ek haal my hoed af vir hierdie mense wat ons nog altyd met deernis en respek onder moeilike omstandighede behandel het”.

“Hulle doen ongelooflike onbaatsugtige werk en werk onverpoos van 07:00 soggens tot saans om die verassings te doen, selfs oor naweke sonder om hul eie families te sien,” het sy gesê.

Volgens haar moet die oonde eintlik net vier liggame per dag veras, maar in ’n poging om die agterstand te probeer inhaal, doen hulle nou vyf tot ses liggame per dag.

“Dit is ’n baie fyn toertjie, want oorverhit die oond, dan breek dit, so hulle moet dit baie versigtig hanteer.”

Volgens haar neem dit sowat twee tot drie ure om ’n persoon te veras.

Sy erken die verassings wat sloer is geweldig traumaties vir dié wat geliefdes verloor het.

“Iemand het vir my gesê ‘elke keer as ek verby die lykshuis ry, dan weet ek my man lê daar. Elkeen wil weet ‘waar is my geliefde nou’.”

Nog ’n begrafnisondernemer het die situasie as “frustrerend” beskryf.

“Ek sê nou by voorbaat vir mense wat wil veras, hulle moet weet hulle sal ten minste twee maande moet tyd gee,” het hy gesê.

Hy erken hul hande is “afgekap en jy moet maar verlief neem en wag tot hulle volgens die lys werk.” Van die liggame by hom het ook reeds ’n maand terug gesterf.

“Ons sit in die middel en is afhanklik van die krematorium,” het nog een gesê.

Sy was ook vol lof vir die personeel by die krematorium en het beklemtoon “dit is ook maar buite hul beheer.”

Volgens haar werk die krematorium volgens ’n lys wat roteer.

“Ek werk op my lys van die persone wat eerste gesterf het, wat eerste veras word. Dit is nie vir my eties om die wat vroeër gesterf het, later te laat veras nie.”

Daar is egter wel uitsonderings waar die persoon onder meer aan die Hindoe- of Moslemgeloof behoort of die as uit die land gevlieg moet word. Sy het tans 20 liggame wat veras moet word.

Nog ’n begrafnisondernemer het die oorskot van ’n persoon wat 25 Junie gesterf het, maar sy het steeds nie ’n datum van die krematorium oor wanneer die verassing sal kan plaasvind nie.

“Die krematorium het ’n lys waarvolgens hulle werk en dit hang af van die begrafnisondernemer. Die persoon moet ook eers weer deur ’n dokter in Windhoek dood verklaar word, voordat dit op die lys vir verassings kan kom. Sover ek weet, is daar net drie dokters wat dit doen en in ’n stadium was twee siek aan Covid, wat ook weer die proses vertraag het.”

Die munisipaliteit se woordvoerder, me. Lydia Hamutenya, het beloof om vandag op navrae te reageer. Volgens Hamutenya was die persoon in beheer van die krematorium nie vir insette en kommentaar beskikbaar nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!