Krematoriums (steeds) buite werking
Krematoriums (steeds) buite werking

Krematoriums (steeds) buite werking

Namibiërs wat ontslape geliefdes wil laat veras, moet dit op eie onkoste in Suid-Afrika laat doen.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die Windhoekse ­munisipaliteit (CoW) sê sy peperduur, moderne krematorium in die hoofstad, wat verlede jaar in Maart in gebruik geneem is, is tans nie in gebruik nie omdat op parte uit die buiteland gewag word.

Volgens CoW se skakelafdeling word “tegniese uitdagings” tans ondervind, wat sy interne en eksterne tegniese spanne se aandag geniet.

Indien alles volgens plan verloop, sal werksaamhede by die ­krematorium, wat verlede jaar op 10 Maart in gebruik geneem is, iewers in ­volgende jaar hervat.

Die oponthoud word glo veroorsaak deur die feit dat die meeste van die onderdele noodsaaklik vir die herstel daarvan uit die buiteland verkry moet word.

CoW sê hy bly toegewy aan die “belangrike, dog duur diens”.

Hy moedig Windhoekers aan om intussen “goedgunstelik” te reël vir verassings in Suid-Afrika – op eie onkoste.

Die munisipaliteit is tans besig om die ou krematorium opnuut vir plaas­like verassings gereed te kry.

Die ou krematorium is in 1975 in gebruik geneem. Laasgenoemde behoort teen die middel van Desember weer in werking te wees, sê die munisipaliteit.

Die nuwe krematorium het 437 ­verassings tot Desember verlede jaar gedoen voordat tegniese probleme opgeduik het.

Dít nadat 'n brand uitgebreide skade aan een van die filterafdelings in die verbrandingsoond aangerig het.

'n Versekeringseis is gevolglik deur CoW ingedien. Toe was die verwagting reeds dat die herstelwerk duur en tydrowend sou wees omdat die onderdele uit Duitsland bestel moet word.

In 'n poging om die verwagte, ­uitgerekte tydperk van ondersoek vir die eis te bestuur, het die ­munisipaliteit besluit om die ou ­krematorium as tydelike maatreël weer in gebruik te neem.

Omdat laasgenoemde meer as 40 jaar oud is, is die grootste uitdaging volgens die munisipaliteit om die nodige onderdele te vind.

“CoW wend alle pogings aan om die huidige uitdagings ten opsigte van verassingsdienste in die land te bowe te kom.”

Die nuwe krematorium, wat teen N$15 miljoen in die hoofstad opgerig is, was in die nuus toe dit skaars vier maande ná sy opening tot stilstand gekom het – dít weens 'n voortdurende gaslekkasie.

Die Duitse maatskappy Ruppmann Verbrennungsanlagen GmbH, wat die nuwe krematorium ontwerp en gebou het, het glo nie 'n gastenk geïnstalleer nie omdat dit nie deel van die ooreenkoms was nie.

Die hulp van 'n plaaslike ­maatskappy is toe ingeroep om 'n gastenk te ­installeer, maar dit het nie volgens plan verloop nie.

In 2017 het die ou krematorium ook tot stilstand gekom ná dit in 2015 vir vier maande buite werking was.

Families wat hul ontslape geliefdes wil laat veras, moet noodgedwonge bykomende onkostes aangaan om dit by die naaste krematorium op Upington, in Suid-Afrika, te laat doen.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!