Kriminalisering van aborsie 'werk nie'
Kriminalisering van aborsie 'werk nie'

Kriminalisering van aborsie 'werk nie'

Die huidige aborsiewet laat ­ernstige vrae oor die waarde van vroue se lewens ontstaan.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die hoë siekte- en sterftesyfer verwant aan onveilige, onwettige aborsies bewys die kriminalisering van aborsie keer onwettige aborsies nie werklik nie.

“Hoewel dit wyd erken word dat ­onveilige, onwettige aborsies ernstige risiko's vir vroue se lewens en gesondheid inhou, is die huidige siening dat die kriminalisering van aborsie moet bly. Dit laat ernstige vrae ontstaan oor die status van vroue en jong meisies in ons gemeenskappe, en of vroue se lewens saak maak,” sê die voorsitter van die Nasionale Raad, me. Magaret Mensah-Williams.

Mensah-Williams het aan 'n gesprek oor gelykheid en inklusiwiteit in die konteks van seksuele en aanwas­gesondheid en –regte in Namibië deelgeneem.

Sy het gesê 'n reeks struikelblokke weerhou 'n beduidende deel van die Namibiese bevolking van toegang tot seksuele en aanwasgesondheidsdienste.

“Sonder gratis en ­insiggewende toegang tot gesondheidsdienste, wat voorbehoedmiddels, behandeling vir seksueel-oordraagbare siektes en kondome insluit, sal die geboortekoers, tienerswangerskappe en MIV-infektering hoog bly en moontlik ook styg.” Sy het beklemtoon in Namibië is die kwessie van seksuele en aanwasgesondheid steeds 'n taboe onderwerp.

Kultureel word van jongmense verwag om weg te bly van seksuele verhoudings tot hulle getroud is, tog is die werklikheid dat jongmense van selfs so vroeg as 12 jaar oud af seks het.

Dikwels is dit sonder beskerming of inligting oor hoe om ongewenste swangerskappe, seksueel-oordraagbare siektes of MIV te voorkom.

“Skadelike geloofspraktyke teiken ook vroue en ongetroude meisies, wat daartoe lei dat hulle nie aandring op die gebruik van kondome nie en selfs weier om geboortebeperking te gebruik.

Gesondheidswerkers heg dikwels ook 'n stigma aan jongmense en ­ongetroude vroue wat gesondheidsinstellings vir raad oor ­seksuele gesondheid, kommoditeite en dienste besoek.

“Die ­konserwatiewe houding het gelei tot isolasie van gesondheidsdienste, inligting en onderrig vir tieners, homoseksuele, ongetroude mans en vroue en inwoners van landelike gebiede.”

Die uitdaging vir die regering lê volgens Mensah-Williams daarin om alle gepaste stappe te neem om negatiewe stereotipes te takel wat lei tot geslags- en ander vorme van diskriminasie en ontkenning van menseregte.

Sy het voorts gesê die regering moet spesiale pogings aanwend om dié wat die risiko loop om die meeste geïsoleer te word, toegang tot gratis, vertroulike en ­niediskriminerende gesondheidsdienste, inligting en ­onderrig te gee.

Mensah-Williams het ook 'n beroep op die ministeries van gesondheid en maatskaplike dienste asook van basiese onderwys, kuns en kultuur gedoen om gepaste en omvattende seksonderrig vroeg genoeg te bied aan jongmense wat volgens navorsing seksueel aktief is.

“Volledige seksonderrig is gevind gee tieners se besluitsnemingsvaardighede 'n hupstoot en dra by tot die voorkoming van 'n ongewenste swangerskap, geweld en mishandeling, sowel as geslagsgeweld.”

Sy het beklemtoon daar moet weer na die huidige aborsiewet gekyk word en besprekings moet plaasvind oor die impak daarvan op onder meer die voorkoming van geslagsiektes, ­tienerswangerskappe, die verspreiding van MIV en babastorting.

Praktiese oplossings sluit onder meer gesondheidsgeriewe in wat spesiaal ingerig is om kwessies te takel wat jongmense, vroue en LBGTI-gemeenskappe isoleer. Die geriewe moet voorts mobiel wees om verafgeleë gemeenskappe te kan bereik.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!