Krisis met toetse vir hondsdolheid
Krisis met toetse vir hondsdolheid

Krisis met toetse vir hondsdolheid

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Namibië staar ’n nasionale krisis in die gesig aangesien geen toetse vir hondsdolheid tans by die sentrale veeartsenylaboratorium in Windhoek gedoen kan word nie.
Dr. Ulf Tubbesing, eienaar van Wildlife Vets Namibia, moes gister die brein van ’n hond wat Saterdag sy eienaar by Outjo gebyt het, na die veartsenylaboratorium by Onderstepoort koerier. Die uitslag sal na verwagting eers teen vanmiddag (Dinsdag) beskikbaar wees.
Die ideaal is dat ’n mens wat met ’n hondsdoldier in kontak was op só wyse dat hy of sy besmet kon word, dieselfde dag nog met voorkomende behandeling teen dié dodelike siekte begin, het ’n ontstelde Tubbesing gister aan Republikein gesê.
Dr. Siegfried Khaiseb, hoof van die sentrale veeartsenylaboratorium, het by navraag bevestig dat die laboratorium nie die reagense in voorraad het wat nodig is om die toetse uit te voer nie. Dit is die middel wat die chemiese reaksie moet bewerkstellig om die uitslag te verkry.
Hy sê dit is die eerste keer sedert hy in 2010 daar aangestel is, dat dit gebeur.
Khaiseb sê dié laboratorium doen weekliks tussen 15 en 20 toetse om vas te stel of die monsters wat van diere ontvang is wat kliniese simptome van hondsdolheid getoon het, positief is.
Dié toetse word binne 4 tot 5 ure ná ontvangs gedoen. Indien die laboratorium ingelig is dat ’n mens of mense met die dier kontak gehad en aan die virus blootgestel was, word ’n brief uitgereik ingevolge waarvan die staat gratis voorkomende behandeling verskaf.
Khaiseb het gister verduidelik die versoek dat ’n nuwe tender vir die voorsiening van hierdie reagense uitgereik word, is sowat drie maande gelede by die ministerie van landbou, water en bosbou se bestuurseenheid vir verkryging (PMU) ingedien.
“Ons is in kennis gestel dat die maatskappy aan wie die tender toegedien is, vanoggend (gister) laat weet is hulle moet die bestellingsbrief by die PMU gaan haal,” sê hy.
Volgens hom het die laboratorium die PMU versoek om vas te stel hoe lank dit die leweransier gaan neem om die aflewering te doen. Teen gister was dit nog nie bekend nie.
Thubbesing sê benewens die voorval met die hond waar gevrees word dat die eienaar kan siek word, was daar ook ’n voorval in sentraal Namibië waar mense blootgestel was aan wildehonde wat vermoedelik hondsdolheid het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer