Kriteria vir grondonteiening nou amptelik
‘Grond in Namibiese besit hou baie klein risiko in’
Elvira Hattingh – “Die kanse is skraal dat kommersiële landbougrond wat deur ’n Namibiër of Namibiese maatskappy besit word, in die nabye toekoms onteien sal word.”
Mnr. Frank Heger, wat die kommersiële landbousektor op die raadgewende kommissie vir grondhervorming verteenwoordig, het Woensdag tydens die Namibië Landbou-unie (NLU) se jaarkongres verduidelik hoe grondonteiening moontlik in die toekoms kan werk.
“Die kriteria waarvolgens grondonteiening in Namibië kan plaasvind, is op 1 September vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer. Hiervolgens kan die minister van grondhervorming slegs grond onteien ná raadpleging van die raadgewende kommissie vir grondhervorming en hy kan dit nie op sy eie doen nie.
“Volgens die Grondwet kan grond slegs onteien word wanneer dit in openbare belang is en dan moet die eienaar daarvan regverdig vergoed word,” het Heger gesê.
PUNTESTELSEL
“Voorts kan grond onteien word op grond van ’n sekere puntestelsel waarvolgens die geskiktheid vir onteiening bereken word. Sou ’n stuk grond ’n puntetelling van 80% toegeken word, word dit as uiters geskik vir onteiening gereken. Tussen 60% en 79% word dit as geskik beskou, terwyl ’n telling van tussen 59% tot 40% dit net matig geskik maak. Plase wat ’n puntetelling van onder 39% kry, word nie as gepas vir onteiening beskou nie,” het hy gesê.
Hy het verduidelik dat verskeie faktore waartydens sekere persentasies aan ’n stuk grond toegeken word, in ag geneem word. Hoe meer punte toegeken word, hoe meer geskik is die plaas vir onteiening.
“Indien ’n plaas deur ’n individuele Namibiër, ’n organisasie of in ’n CC besit word, kry jy byvoorbeeld 5%. Indien jy ’n buitelander is, kry jy 15% en as jy ’n buitelander is wat meestal afwesig van jou plaas is en in ’n ander land woon, word nog 15% aan jou toegeken. Vir grond wat meestal verlate lê of nie gebruik word nie, kan ook 4% toegeken word en in die geval waar ’n buitelander meer as een stuk grond besit, word nog 20% aan die grond toegeken.
“Jy ontvang ook punte volgens hoe goed die infrastruktuur op jou plaas is, die hoeveelheid reën wat jy ontvang, of jou plaas in kampe opgedeel is, hoeveel ondergrondse water beskikbaar is en wat die drakrag van jou plaas is,” het Heger gesê.
“Al hierdie punte word bymekaar getel. In sekere gevalle kan punte ook afgetrek word, wat tot voordeel van grondeienaars strek. Tot 25% word afgetrek in gevalle waar die eienaar ’n individu en ‘n Namibiër is en tot 15% waar dit in besit van ’n maatskappy, ’n CC of trust is. In gevalle waar ’n plaas aan ’n Namibiër behoort en dit aan staatsgrond of ’n hervestigingsplaas grens, word ook 25% afgetrek.”
Hy het ’n voorbeeld genoem van ’n plaas wat slegs 35% gekry het, alhoewel dit deur ’n Namibiese maatskappy in die beste gedeelte van die land besit word en ’n uitstekende infrastruktuur, jaarlikse reënval en drakrag het, maar nie langs ’n hervestigingsplaas geleë is nie en nie vir landboudoeleindes gebruik word nie.
WANOPVATTINGS
Terselfdertyd het die NLU-president, mnr. Ryno van der Merwe, gesê in die afgelope 26 jaar ná onafhanklikwording was grondhervorming nog nie ’n vrees of ’n bedreiging vir plaaslike kommersiële boere nie.
“Ek het nog nooit die gevoel gekry ons plase gaan nou voor die voet onteien word nie. Ons is bevoorreg, want ons is in ’n gunstige situasie. Daar is egter geen waarborge dat iets nie môre kan verander nie. Ten minstens het ons ’n sterk staatshoof, iets wat vir ons gemoedsrus gee,” het Van der Merwe gesê.
“Die feit van die saak genoeg kommersiële plase word vir die regering aangebied om as hervestigingsplase te koop. Vir baie kommersiële boere is dit tydens die droogte ’n uitkoms dat die staat grond koop en tans is daar ’n ooraanbod van plase. Die enigste plekke waar ’n onderaanbod van plase voorkom, is in die Khomas-, Omaheke- en Kunenestreek, waar die regering dalk van grondonteiening gebruik sal kan maak,” het Heger gesê.
Van der Merwe het bygevoeg dat die unie rekord hou van plase wat aangebied word, maar nie deur die regering gekoop word nie met die doel om te demonstreer dat die beginsel van vrywillige koper, vrywillige verkoper werk.
“Ons siening is dat die regering nie genoeg geld het om al hierdie plase te koop nie. Tans glo ons nie dat die regering nou reeds grond wil onteien nie, want dit gebeur net in gevalle waar grond nie te koop aangebied word nie of andersins nie beskikbaar is nie,” het hy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie