Kritici van Maduro aangehou
Vrygelaat na betogings in Venezuela
Meer as 30 betogers wat in hegtenis geneem is ná protesoptrede teen president Nicolas Maduro in Venezuela, is vrygelaat.
Betogers het veral beswaar gemaak teen voedseltekorte in die land.
“Hulle is almal vrygelaat,” het Alfredo Romero van die nieregeringsinstansie Venezuela Geregtigheidsforum op Twitter laat weet. Die enigste uitsondering was blykbaar ’n joernalis, Braulio Jatar, wat video’s van die betogings op sosiale media gepubliseer het.
Die dramatiese gebeure het Vrydag in die stad Porlamar op Venezuela se Margarita-eiland in die Karibiese staat Nueva Esparta plaasgevind.
Die beleërde Maduro, wie se regerende linkse bewind gebuk gaan onder tekorte aan bykans alles, van harde valuta tot kos en toiletpapier, het na Porlamar gegaan om ’n openbare behuisingsprojek te open.
Volgens sosiale media was Maduro egter omring deur ’n woedende skare wat hom gevolg het, op potte en panne geslaan het en hom beledig het.
Dit is gevolg deur berigte van genadelose optrede deur die veiligheidsmagte teen betogers.
Die minister van kommunikasie en inligting, Luis Marcano, het op Twitter geskryf die geslaan op potte is ’n weerspieëling van “wat van die regses oorgebly het” en die media daarvan beskuldig dat hulle die omvang van die protes aangedik het.
Opposisieleiers het die inhegtenisnemings gekritiseer.
“Nie Maduro, lyfwagte, die Casa Militar (veiligheidsagentskap) of die ministerie kan die klank van potslanery in ’n dorp wat ’n herroepingsverkiesing eis, vermy nie,” het Henrique Capriles, ’n voormalige opposisie- presidentskandidaat getwiet.
Donderdag het ’n groot skare in die hoofstad, Caracas, betoog en onderneem om weekliks te protesteer ten einde ’n referendum te eis om Mudaro te herroep.
Die betogings kom op ’n onstabiele tyd vir Venezuela, waar ’n val in die pryse van olie-uitvoere tot ernstige tekorte, gewelddadige misdaad en plundering gelei het.
Maduro sê die krisis is die skuld van ’n “ekonomiese oorlog” deur sakeondernemings met die steun van Amerikaanse imperialisme. - Nampa/AFP

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie