Kritieke waternood heers in Noorde
Kritieke waternood heers in Noorde

Kritieke waternood heers in Noorde

Die watervoorsieningskanaal in die Noorde is tussen die Olushandja­dam en Oshakati deur vloedwater verspoel, en gevolglik onbruikbaar.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Vyf spanne is vir noodherstelwerk deur NamWater in die sentrale noorde van die land ontplooi waar inwoners net vir enkele ure per dag skoon drinkwater het.

In 'n ironiese nadraai van die goeie reënseisoen, is dié deel van die land in 'n knellende waternood vasgevang ten spyte daarvan dat die geraakte dorpe en nedersettings deur massas water in die oshonas omring word.

Dit volg nadat verspoelings die water­kanaal wat vanaf Calueque by die Angolese grens tot by Oshakati strek, erg beskadig het.

Dr. Vaino Shivute, hoof uitvoerende beampte van NamWater, het Vrydag tydens 'n dringende nuuskonferensie in Windhoek aan joernaliste gesê die waterreservoirs waarin skoon water geberg word, is net 20 tot 30% vol.

Dit bring mee dat inwoners in die gebied soms net vir vier to vyf ure per dag lopende water het.

In 'n poging om die nood te verlig, is tenkwaens met water die naweek na onder meer hospitale geneem.

“Die noordelike deel van die land beleef 'n kritieke tekort aan water aangesien dele van die kanaal deur die vloedwater weggespoel is,” het hy gesê.

“Die skade is so omvangryk dat die hele kanaal vanaf die Olushandjadam­ naby Outapi tot by Oshakati beskadig is.”

Hy sê Tsandi en Eenhana is die enigste dorpe wat nie geraak word nie. “Tsandi, aangesien dit van water direk uit die Olushandjadam voorsien word en Eenhana, aangesien daar onlangs boorgate in die gebied gesink is.”

Dié kanaal, wat oor 'n afstand van sowat 150 km strek, is met die uitsondering van hierdie boorgate die enigste voorsiener van vars water aan die sentrale Noorde met sy meer as 700 000 inwoners.

Volgens Shivute word water tans as noodmaatreël uit die oshonas onttrek en by die watersuiweringsaanlegte gesuiwer sodat dit vir menslike­ gebruik geskik is. Die water is egter baie modderig en sowat 40% van wat onttrek word, gaan tydens die suiweringsproses verlore, sê hy.

Hy het gesê sowat 300 mense uit die plaaslike gemeenskap is gewerf om die spanne van NamWater met die herstelwerk aan die kanaal te help.

Kruiptrekkers en ander groot masjienerie is na die gebied gestuur.

Shivute sê hulle werk reeds etlike dae aan die kanaal, maar die nat, modderige toestande bemoeilik die proses.

Hy het 'n beroep op inwoners gedoen om water uit die oshonas vir huishoudelike gebruik te kook om só die water tot hulle beskikking aan te vul.

Watersuiweringstablette sal aan inwoners beskikbaar gestel word, het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!