Krokkarre boei Namibiese polisie
Krokkarre boei Namibiese polisie

Krokkarre boei Namibiese polisie

Weens die regering se kontant­krisis kon die polisie vyf jaar laas nuwe voertuie aanskaf.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Die polisie in Wanaheda het net agt voertuie om misdaad mee te probeer bekamp; die ander 12 is stukkend.

Uit die agt wat werk, het een reeds 254 709 kilometer gery en die ander 112 348. Die oorblywende voertuie het tussen 5 000 en 80 000 km van hul diensleeftyd oor.

En dit was aan die einde van Maart 2019.

Só sê ouditeur-generaal Junias Kandjeke in 'n verslag oor die voertuigtekort wat die polisie se taak landswyd belemmer. Dié dokument, wat vandeesweek vrygestel is, vat onder meer die polisie se penarie in Khomas, Erongo en Kunene van 2016-'17 tot 2018-'19 saam.

Weens die regering se geldkrisis is daar in dié drie begrotingsjare nie 'n enkele polisievoertuig in die hele land aangekoop nie, sê Kandjeke. Begrotingsdokumente ná 2018-'19 toon geen sent is ook sedertdien daarvoor opsy gesit nie.

Die verslag ontleed onder meer die stand van sake by nege polisiestasies: Wanaheda, Klein Windhoek, Groot-Aub, Opuwo, Kamanjab, Omakange, Walvisbaai, Narraville en Mondesa.

In die tydperk onder oorsig het dié polisiestasies in totaal oor 62 voertuie beskik. Net 27 het gewerk. Op Opuwo kon net een van die nege voertuie ry. Uit die vyf tot beskikking van die Mondesa-polisiestasie, het slegs een gewerk.

Dit beteken voertuie wat werk, moet heeldag, aldag ingespan word om klagtes te ondersoek, gevangenes na die hof te vervoer en ander pligte uit te voer, sê Kandjeke.



WERKTUIGKUNDIGES

Die landswye tekort aan ge­kwalifiseerde ambagslui by regeringsgarages is meer as 60%. Khomas vereis 15 personeellede, maar het oor net ses beskik. Elf behoort in Kunene diens te verrig, maar daar was net vier. In Erongo moes drie mense die werk van nege verrig.

Garages wat besoek is, beskik oor ou en té min toerusting. Daar heers 'n voortdurende vertraging om spaaronderdele te bekom. Werktuigkundiges moet tot 'n jaar vir onderdele wag om 'n voertuig reg te maak.

Een van vele voorbeelde in die verslag is 'n voertuig by die polisiestasie op Walvisbaai waarvan die koppelaar stukkend is. 'n Rekwisisie vir onderdele is in Januarie 2019 ingesit, maar teen Februarie 2020 is niks steeds ontvang nie.

“Lede van die polisiemag is verplig om uit donasies van die gemeenskap of hul eie sakke vir spaaronderdele te betaal,” sê Kandjeke.

Tydens die drie begrotingsjare onder oorsig is sowat N$41 miljoen in totaal vir herstelwerk, diensfooie en onderdele vir polisievoertuie in Khomas, Kunene en Erongo begroot. Net in 2017-'18 alleen is die begroting met ongeveer N$2 miljoen oorbestee.

Voertuie wat wel beskikbaar is, is nie altyd geskik vir die terrein waar misdaadbekamping nodig is nie, sê Kan­djeke. In baie gebiede is 4x4-voertuie nodig. Die gebrek daaraan belemmer die polisie se taak, sê hy.

Volgens Kandjeke moet die polisie se hoofkantoor dringend 'n behoefte-ontleding oor voertuie doen en nie net voertuie op versoek verskaf nie. Hoofkantoor gebruik sy diskresie rakende die toestaan van voertuie eerder om die beskikbare bronne as maatstaf te gebruik. Dit beteken ongelyke toegang tot voertuie in die streke en by polisiestasies, aldus Kandjeke.

Polisiehoofde in die streke behoort deel van dié besluitnemingsproses te wees, sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!