Krokke durf woesteny vir kanker aan

Hulle gaan baie pret hê oor die volgende drie dae, beloof een van die organiseerders.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die eerste Ruff & Tuff Rally met 27 ou karre vertrek vanoggend by die Auas Valley-inkoopsentrum in Windhoek na die afdraai van die Tony Rust-renbaan.

Van daar val die geselskap in die pad vir 'n drie dag lange ekskursie van ongeveer 700 kilometer grondpad wat eers Saterdagaand afsluit.

Slegs modelle wat 27 jaar en ouer is (1990) en wat nie meer as N$35 000 werd is nie, mag inge­skryf het. In­skrywings is van oral in die land ontvang en ook Basil Calitz en Simon van Zyl het hul gewig agter die edele gedagte van die Baard-familie van Walvisbaai ingegooi om geld vir die Namibiese Kankervereniging (CAN) in te samel.

Elkeen van die karre het 'n “navigator” wat sommer ook as karwag sal moet instaan. Deelnemers moes elkeen 'n individuele tema kies en vir die volgende paar dae daarvolgens aantrek.

Republikein het gister met Philipie Baard, een van die organiseerders, gepraat wat passievol van Ruff & Tuff se toekomsplanne vertel het.

“Ons Facebook-blad is Ruff & Tuff Rally en mense kan ons vir die volgende drie dae daar volg. Ons gaan baie pret hê en daar gaan gereeld foto's opgelaai word sodat mense kan sien wat ons aanvang. Dit is nie 'n werklike tydren nie en die ouens gaan net rustig aankruie, maar die byeenkoms is deur die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF) en die Namibiese Paaieowerheid goedgekeur.

“Die hoofdoel is om geld vir kanker in te samel en mense daarvan bewus te maak. Ons gaan dié geleentheid jaarliks aanbied en volgende jaar gaan alles groter en beter wees. Daar is reeds N$30 000 aan die Kankervereniging oorbetaal en die 27 deelnemers se borgvorms kom ook nog by.

“Behalwe die inskrywingsgeld moes elke deelnemer N$3 000 insamel wat net so na CAN gaan. Die inkomste wat van die inskrywings oorbly nadat kostes verhaal is, word ook vir kanker geskenk.

“Ons planne is om vanjaar ten minste N$150 000 vir die CAN in te samel en in 2019 gaan dinge be­hoorlik op dreef wees. Dit is geensins te laat vir mense om 'n donasie namens Ruff & Tuff vir die stryd teen kanker te maak nie. Gebruik Ruff & Tuff Rally as verwysing wanneer geld in die ­Kankervereniging se rekening ­inbetaal word. Jy weet kanker is dalk nie vandag hier nie, maar môre klop dit aan iemand se deur,” het Baard gesê.



SO MAAK HULLE

Op die eerste dag ry die manne tot op Karibib waar hulle vanaand oornag. Môreoggend is dit agter die myne om met 'n lang sirkelroete wat by Usakos vir die nag se verblyf eindig.

Saterdagoggend is dit Spitzkoppe toe en van daar na Uis met Omaruru se omtes ingesluit en Kuduberg Lodge op die horison as die laaste bestemming. Saterdagaand sluit die Ruff & Tuff Rally met 'n orkes en lekker dans by Kuduberg Lodge af.

Nadat nuwe vriendskappe gesmee is, is dit Sondagoggend tyd vir groet om met wonderlike herinneringe huiswaarts te keer.

Van die karre wat saam met 15 ondersteuningsvoertuie in die pad geval het is 'n 1974 Audi, vier Mercedes-Benz 200-modelle (Baard Konstruksie), Toyota Land Cruiser-­stasiewa (Brandberg Lodge Old Farts), Land Cruiser-bakkie, Land Rover-stasiewa, 404 Peugot-sedan (Two Beards), 1984 Porche 911 (Spoedvark Suremix), Kamaz-­trok (The Legends Suremix), Jaguar en 'n Marina-­bakkie (UN-­ambulans).

Philipie Baard kan deur middel van Ruff & Tuff Rally se Facebookblad vir donasies aan die CAN gekontak word, of mense kan direk met die vereniging in verbinding tree. Ruff & Tuff is as 'n niewinsgewende organisasie geregistreer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!