Krokodil val man aan
Krokodil val man aan

Krokodil val man aan

Die vierde krokodilaanval in die Zambezirivier in 'n kort tyd het 'n man se lewe by Impalila-eiland geëis.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Omstanders het tevergeefs probeer om 'n 45-jarige man uit die kake van 'n krokodil in die Zambezirivier by Impalila-eiland te red.

Volgens die Namibiese polisie se bevelvoerder in die Zambezistreek, komm. Karl Theron, het die voorval Saterdag tussen 07:00 en 09:00 by die Kawulu-nedersetting plaasgevind.

“Die slagoffer het op pad na die kliniek op die eiland aan sy wonde beswyk. Sy liggaam is vir 'n nadoodse ondersoek na die Katima Mulilo-staatshospitaal geneem,” het Theron gesê.

“Dit is die vierde krokodilaanval in die Zambezirivier in 'n kort tyd. Onlangs het 'n man, wat sy kar by die rivier gaan was het, ternouerdood aan 'n krokodilaanval ontkom.”

Theron waarsku gemeenskappe langs riviere om versigtig te wees as hulle water gaan skep of hul klere in die rivier gaan was.

Ander onnatuurlike sterftes was 'n negejarige seun wat Sondag omstreeks 17:40 by die Omundudu-nedersetting naby Endola in 'n gronddam verdrink het.

Volgens die Nambiese polisie se weeklikse misdaadverslag het hy saam met ander kinders geswem. Die polisieondersoek duur voort.

By Onathinge naby Onayena is die ontbinde liggaam van 'n 22-jarige man Saterdag omstreeks 13:00 in 'n moeras ontdek.

“Hy het glo verdrink ná hy geswem het. Sy liggaam is na die lykshuis op Omuthiya vir 'n nadoodse ondersoek geneem om die oorsaak van sy dood te bepaal,” sê die polisie.

Sy naasbestaandes is van sy dood ingelig en die ondersoek duur voort.

'n Man het Sondag omstreeks 17:30 by Epukiro Pos 3 in die Omaheke­streek dood neergeslaan ná hy 'n pot pap geëet het.

“Die man het na bewering by 'n naburige huis vir 'n pot gevra om pap te kook. Nadat hy op 'n stoel gesit en die pap geëet het, het hy glo inmekaargesak en gesterf,” sê die polisie.

'n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van sy dood bepaal.

Sy naasbestaandes is van sy dood ingelig en die ondersoek duur voort.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!