Krokodille dalk vergiftig

Die ministerie werk nou saam met sy Angolese eweknie om krokodilsterftes in die rivier te ondersoek.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Dooie krokodille wat in die Kuneneriver dryf, skrik toe­riste af.

Só sê die eienaars van Kunene River Lodge, mnr. Pete Morgan en sy vrou, Hillary, wat verlede jaar in Julie vir die eerste keer opgeblaaste krokodille in die Kunenerivier gesien het.

“Ons sien die vergiftiging van krokodille al 'n jaar lank. Ons het in Julie verlede jaar die dooie, opgeblaaste krokodille die eerste keer in die rivier gesien. Daarna het dit stiller geword, maar dit het nou weer sy aaklige kop uitgesteek met baie karkasse wat in die rivier afdryf,” sê Morgan.

“Die Angolese aan die oorkant van die rivier het aan ons erken hulle het giftige aas vir ape langs die rivier gesit,” sê Morgan.

“Dit is nie net krokodille wat vergiftig word nie, maar ook ander wilde diere en voëls. Dit is 'n groot kwessie vir ons – veral uit 'n toerismeoogpunt is dit baie sleg.”

Morgan sê sedert Donderdag verlede week is vyf krokodilkarkasse in 'n gebied opgemerk waar hul bote vaar.

“Dit is in 'n gebied waar daar een krokodilkarkas per kilometer is. Gaste by Epupa het dit ook gesien. Dit is wydverspreid.”

Morgan het die saak verlede Donderdag by die Angolese én Namibiese polisie, asook die ministerie van die omgewing en toerisme aangemeld.

Hy sê die owerhede het ook 'n sterk vermoede die krokodille is vergiftig.

“Die Angolese polisie het gesê 'n Angolees het glo gif vir ape gemeng, nie sy hande gewas nie, daarná iets geëet en binne vyf minute gesterf,” sê hy.

“Ons vermoed die gif is sianied, wat maklik by myne in die hande gekry kan word.”

Volgens Morgan is die Angolese polisie besig om die oorsprong van die gif te probeer opspoor.

Hy sê Namibië en Angola moet as lede van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) saamwerk om meer doeltreffend te wees.

“Dis baie maklik om op die grens te bly en die ander kant te blameer,” sê Morgan.

“Gemeenskappe aan beide kante van die rivier moet 'n kopskuif maak en besef die bewaring van krokodille moet vandag begin.”

Hy verduidelik krokodille begin eers op 14 jaar teel.

Mnr. Romeo Muyunda, ministeriële woordvoerder, het die voorval bevestig en gesê die ministerie werk nou saam met sy Angolese eweknie om agter die kap van die byl oor krokodilsterftes in die Kunenerivier te kom.

Muyunda het gemeenskappe gewaarsku om nie reg in eie hande te neem nie, maar om die owerhede se hulp in konfliksituasies in te roep om oplossings te vind.

Hy het ook gemaan die krokodille se vleis moenie geëet word nie omdat dit waarskynlik vergiftig is.

- [email protected].

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer