Kronkelpad na sukses
Met Mettylde Iyombo se ysere wilskrag het sy maande lank gespaar om haar droom te bewaarheid.
Abigail Beukes
“Toe ek 15 jaar oud was, het ek my eerste geld verdien deur vir vriendinne klere te maak,” sê me. Mettylde Iyombo (34) van Metty's Tailoring Design.
Die passie vir ontwerp smeul al van kleins af in haar.
Iyombo het vir haar poppe kleertjies ontwerp en gemaak, en as tiener het sy haar eie klere ontwerp.
”Ek het my tannies se ou klere uitmekaar gehaal en my eie ontwerpe daarop gewerk.
“Ek het ook T-hemde gekoop en hulle dan in my eie styl herontwerp. Ek het dit alles met die hand gedoen.”
Iyombo het op hoërskool in 'n koshuis gebly en ander leerlinge se aandag met haar unieke T-hemde en klere getrek.
Nie lank daarna nie het die bestellings ingestroom.
Ná skool het sy vier jaar lank as sekretaresse gewerk en klereontwerp is vir eers op die agtergrond geskuif.
Toe haar werkgewer die land verlaat, moes sy ander werk soek.
Iyombo het toe besluit om haar passie te hervat.
Sy het haar klere en groente in Otjomuise op 'n sypaadjie verkoop, maar die geld was min.
Sy nader toe vir mnr. Beaven Munichinga van Bupilo Shoe Repairs en begin vir hom handsakke maak.
Ná twee maande het Munichinga haar aangemoedig om haar eie besigheid te begin. Eers het dié twee 'n vennootskap aangegaan, maar later het elk hul ondernemings afsonderlik bestuur.
Die vasberade Iyombo het in Februarie 'n goedkoop tent aangeskaf en dit by haar huidige perseel in Otjomuise opgeslaan.
Op winderige dae het die tent soms omgewaai en haar handgemaakte kledingstukke het vol stof geraak, maar steeds het sy voortgebeur.
“Baie mense het my ontmoedig,” vertel sy, maar sy het haar nie aan negatiwiteit gesteur nie.
Iyombo het begin spaar om 'n vraghouer te koop waaruit sy haar onderneming kan bedryf. Binne sewe maande het sy sowat N$20 000 gespaar.
“Ek breek nooit 'n N$50-, N$100- of N$200-noot nie, al is ek honger of dors. Ek sit dit eenkant en gebruik net N$10- en N$20-note.”
Maar die kleinste, goedkoopste houer sou N$26 000 kos. Iyombo het eenvoudig nóg gespaar. In Oktober het die deurbraak uiteindelik gekom.
Sy was besig om 'n kliënt se rok te herstel toe die kliënt 'n oproep ontvang van iemand wat 'n vraghouer aan haar wou verkoop. Die kliënt wou nie van die aanbod gebruik maak nie, en dít was Iyombo se kans.
Sy het die houer gekoop en vandag bedryf sy haar onderneming vanuit die houer.
Sy beoog om later ook sonpanele op die houer te laat installeer.
Dié getroude ma van een se raad aan ander is: “Die pad na sukses is 'n kronkelpad, maar solank jy bid en in jouself bly glo, is niks onmoontlik nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie