Kroondraer Chani terug in haar vaderland

‘My land verdien om gehoor en gesien te word’
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis – Die skone Chanique (Chani) Rabe is terug in haar vaderland nadat sy op 21 Augustus in Pole as 2021 se Mej. Supranasionaal gekroon is en in die proses 57 ander skoonhede uitgestof het.

Rabe en haar span het gister op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geland, waar sy deur trotse landgenote en jong bewonderaars, insluitend die kinders van Hope Village, verwelkom is.

Met haar instapslag het die plaas­like musikant Lize Ehlers die volkslied begin sing, wat Rabe die trane laat wegvee het.

Die laaste skoonheidskoningin wat in 1992 die destydse jong Namibiese republiek op die wêreldverhoog aangekondig het, was toe Michelle McLean as Mej. Heelal gekroon is.

“Om dié geleenthede te hê en ons land oorsee te kan ­verteenwoordig, sodat die wêreld van Namibië sal wéét, is wat belangrik is,” het Rabe tydens 'n mediakonferensie gister gesê.

Minister Agnes Tjongarero van sport, jeug en nasionale diens en die adjunkminister van onderwys, kuns en kultuur, me. Faustina Calley, het die verrigtinge bygewoon en Rabe geloof vir haar ambassadeurskap op die wêreldverhoog. Tjongarero het verwys na haar antwoord in die laaste ronde van die kompetisie, toe sy gesê het sy wil graag president Hage Geingob se raad vra in verband met die manier waarop hy die Covid-krisis in Namibië hanteer het.

“Ons is baie trots, want ons weet met dié titel sal jy 'n positiewe invloed op die Namibiese jeug kan hê,” het Calley op haar beurt gesê.



ANTWOORD OP KRITIEK

Rabe, die eerste wenner uit 'n Afrika-land, het verlede week in 'n sosialemedia-plasing gereageer op mense wat haar as die nuwe titelhouer asook die Mej. Supranasionaal Organisasie (MSO) kritiseer.

“Dis regtig hartseer dat mense soveel negatiwiteit oor my en die MSO versprei. Net omdat ek van 'n Derdewêreldland is met 'n klein bevolking, beperkte finansiering en borgskappe en met 'n baie klein groep wat in die skoonheidsbedryf is, beteken nié ek is minder waardig nie.

“Ek het by die MSO aangesluit oor hul waardes en dít waarvoor hulle staan. Die organisasie het my gekies vir wie ek is en nie vir die roem of publisiteit wat my land na die tafel kan bring nie.

“Ek is trots om 'n Namibiër te wees en om deel van die Mej. Supra­nasionaal-familie te wees. My land verdien om gehoor en gesien te word in die internasionale skoonheidsbedryf.”

Sy sê vir haar om toegang te hê tot dieselfde hulpbronne as groter lande met 'n breër belangstelling in dié bedryf, is ongelukkig 'n onrealistiese droom.

“Ek weet ek moet dit nie persoonlik opneem nie. (Die kritici) is bloot teleurgesteld vir hul meisies se onthalwe. Dis die enigste ding wat ek kon doen, al word dit nie altyd as die regte ding beskou vir 'n skoonheidskoningin om 'n verklaring via sosiale media uit te reik nie. Die skoonheidsbedryf het gegroei. Dié platform gee jou 'n stem en jou stem kan gehoor word. Jy moet sterk menings hê en mense moet weet waarvoor jy staan.”



WAT VOLGENDE?

As model en modeontwerper is Rabe by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke. Sy het onder meer vroeg in die Covid-grendeltyd naaldwerkklasse by Hope Village aangebied en vroue geleer om maskers te maak.

Sy het later ook 'n naaldwerkskool in die Zambezistreek geopen en self die leerplan geskryf. Meisies word daar in naaldwerkvaardighede opgelei sodat hulle ook aan andere naaldwerkklasse kan aanbied.

Volgens Rabe sal die organiseerders oor 'n paar maande na Namibië kom om haar met haar verskeie projekte te help. Met die hulp van 'n internasionale organisasie kan dié projekte meer aandag geniet en uitgebrei word. “Dié organisasie fokus werklik op die wenner se tuisland.”

Sy het jong meisies aangemoedig om nooit die potensiële impak van dié soort skoonheidswedstryde te onderskat nie.

“Sulke kompetisies is harde werk, maar dit gee jou werklik 'n platform om jou land te verteenwoordig en 'n verskil te kan maak.”

[email protected]

FOTO’s Mariselle Stofberg
Chani Rabe het nou 'n kans en platform om 'n positiewe invloed op die Namibiese jeug te hê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!