Kroonprins wil Erdogan spreek

Betrekkinge tussen Saoedi-Arabië en Turkye is gespanne sedert die moord verlede maand op Jamal Khashoggi, uitgeweke joernalis van Saoedië-Arabië, in dié land se konsulaat in Istanboel.
Kroonprins Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië het gevra om by die G20-beraad met pres. Tayyip Erdogan van Turkye te vergader, sê Mevlut Cavusoglu, Turkse minister van buitelandse sake.

Cavusoglu sê in ’n koerant­onderhoud wat Dinsdag gepubliseer is daar is nou geen rede waarom Erdogan die kroonprins nié te woord hoef te staan nie.

“Ja, hy het Erdogan oor die telefoon gevra of hulle in Buenos Aires kan vergader. Erdogan se antwoord was: ‘Kom ons kyk,’ ” het Cavusoglu aan die Duitse Süddeutsche Zeitung gesê.

Erdogan en die kroonprins sal die G20-beraad later vandeesweek in Argentinië bywoon.

“Op die oomblik bestaan geen rede dat hy nié met die kroonprins kan vergader nie.”

Betrekkinge tussen Saoedi-Arabië en Turkye is gespanne sedert die moord verlede maand op Jamal Khashoggi, uitgeweke joernalis van Saoedië-Arabië, in dié land se konsulaat in Istanboel. Nadat die regering in Riaad verskeie teenstrydige verduidelikings vir sy verdwyning gegee het, het Saoedi-Arabië gesê Khashoggi is vermoor en sy lyk opgesny nadat onderhandelinge misluk het om hom te oorreed om na Saoedi-Arabië terug te keer.

Saoedi-Arabië het herhaaldelik gesê dat die kroonprins vooraf geen kennis gedra het nie van die moord, wat Turkye beweer deur ’n span van 15 Saoedi-Arabiese agente, wat die kroonprins se veiligheidspan insluit, uitgevoer is.

HOOGSTE LEIERSVLAK

Erdogan sê die opdrag vir die moord het gekom van die hoogste leiersvlak in Saoedi-Arabië, maar sluit die moontlikheid uit dat dit van koning Salman bin Abdoelaziz al Saoed self gekom het, wat die kollig op die 33-jarige kroonprins laat val het.

Pres. Donald Trump van die VSA het verlede week gesê dat Washington ’n “standvastige vennoot” van Saoedi-Arabië sal bly, al sê Trump ook dat die kroonprins geweet het van die planne om Khashoggi te vermoor.

Op ’n vraag of hy vir seker weet wie in Riaad die opdrag gegee het om Khashoggi dood te maak, sê Cavusoglu dat die span agente nie uit hul eie sou optree nie, maar dat hy niks verder sonder bewyse kan sê nie.

Cavusoglu sê Riaad het aangebied om identikitfoto’s na Turkye te stuur van plaaslike mense wat die agente gehelp het om die moord toe te smeer.

“Waarom identikitfoto’s? Die Saoedi’s ken mos hul name?’’ sê hy.

Turkye sê hy het klankopnames wat met die moord verband hou en wat hy met Westerse vennote gedeel het. Cavu­soglu sê hy het na die opnames geluister en dat Khashoggi doodgemaak is binne sewe minute nadat hy die konsulaat binnegegaan het.

“Dit was moord met voorbedagte rade,” het hy aan die Duitse koerant gesê, eerder as dat dit ’n laaste uitweg was nadat hulle hom nie kon oorreed om na Saoedi-Arabië terug te keer nie.

“’n Mens kan hoor hoe die forensiese deskundige aan die ander sê dat hulle na musiek moet luister terwyl hy die lyk opsny. ’n Mens kom agter hoe hy dit geniet.” – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!