Krugers van Kaiserstraat BV is braaikampioene

Nege boereverenigings en 12 sosiale spanne het meegeding om beessnitte in Cattle Country te braai.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg op Gobabis - Die Kruger-familie van die Kaiserstraat Boerevereniging (BV), Nic, Elsada, Corné en Charmoni, het Saterdag op Gobabis met N$40 000 as die NLU Agribraai se braaikampioene weggestap.

Ná 18 jaar se vasbyt en probeerslae met hul deelname aan die jaarlikse braaikompetisie moes hulle dikwels tevrede wees met 'n naaswennerplek, maar dié jaar het die Krugers se vreugdevure hoog gebrand toe Kaiserstraat BV uiteindelik as die braaikonings aangewys is.

"Volgende jaar kom die NLU Agribraai Windhoek toe en ons gaan gróót gaan," het Corné gesê.

Die naaswenners in die boerevereniging-afdeling is Omuramba BV met Aroab BV in die derde plek. In die vierde plek is Witvlei BV, gevolg deur Sonop BV en Stampriet BV en Leonardville BV gesamentlik in die sesde plek.

Daar was 12 sosiale en nege BV-spanne wat meegeding het om 'n voorgereg, hoofgereg en nagereg op die kole volgens die tema Cattle Country Cobwoy te braai.

Die vleisgereg bepaal die wenner en was voorwaar vanjaar 'n uitdaging met beessnitte soos pens, tong, lewer en niertjies, filet en ribsteak (rib eye) wat in die verrassingsbraaipakkie was.

Die nege BV-spanne wat deelgeneem het, is Aroab, Epikuro, Excelsior, Kaiserstraat, Leonardville, Omuramba, Sonop, Stampriet en Witvlei.

Die vure het Saterdag hoog gebrand op Gobabis met Kalahari-Oos BV, verlede jaar se braaikampioene op Uhlenhorst, wat uitstekende organiseerders was.

Vrydagaand het Broers die heupe op die dansbaan laat swaai en Saterdagaand het die Campbells die cowboy-stewels tot laat hoog laat skop.

In die afdeling vir sosiale spanne het Phillip en Vanessa Weakly en Jaco en Megan Zondagh van Chuck Wagon Kitchen met die louere en prysgeld van N$10 000 weggestap. The Cowboys of Cattle Country is die naaswenners en Securitas is in die derde plek. Vierde is Silver Dollar Saloon en in die vyfde plek is Hollard gevolg deur Voermeester.

Die uitslae is soos volg:

BOEREVERENIGINGS:

Mooiste stalletjie:

1. Witvlei

Skoonste kombuis:

1. Kaiserstraat

Voorgereg:

1. Omuramba

2. Aroab

3. Epikuro

Hoofgereg:

1. Kaiserstraat

2. Omuramba

3. Aroab

Nagereg:

1. Omuramba

2. Aroab

3. Kaiserstraat

SOSIALE SPANNE

Mooiste stalletjie:

1. Chuck Wagon Kitchen

Skoonste kombuis:

1. Hollard

Voorgereg:

1. Securitas

2. Chuck Wagon Kitchen

3. Cowboys of Cattle Country

Hoofgereg:

1. Chuck Wagon Kitchen

2. Securitas

3. Cowboys of Cattle Country

Nagereg:

1. Chuck Wagon Kitchen

2. Voermeester

3. Standard Bank

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer