Kry koeie gereed vir kalwing

'n Gesonde koei lewer 'n gesonde kalf. Daarom is voeding, mineraalaanvulligs en ontwurming so belangrik.
Ronelle Rademeyer
Dr. Martin Ferreira, Veearts - Groot klem word in dieregesondheid gelê op die belangrikheid daarvan om ná die winter na die voeding, mineraalaanvullings en ontwurming van vleisbeeskuddes om te sien.

Die rede is dat die meeste kalwers in hierdie kuddes gedurende Junie/Julie gespeen word of reeds gespeen is en die koeie al weer dragtig is ná die dekseisoen van Desember tot Februarie.

Die dragtigheidsperiode van koeie is nege maande en die fetus groei gedurende die laaste agt weke voor kalwing besonder vinnig. Sowat 60% van die toename in die geboortemassa van die kalf vind in hierdie periode plaas.

Ek fokus in hierdie artikel op die maatreëls om gewigsverlies en ander probleme by dragtige koeie te voorkom.

Goeie voeding

Die beste kwaliteit en smaaklikste weiding moet aan die koei beskikbaar gestel word. Sy vreet nou ongeveer 2,5% – 3,0% van haar liggaamsmassa (op ’n vogvrye basis).

Aanvullende voeding met hooi is noodsaaklik as die veld nie meer genoeg is en haar van goeie gehalte droë materiaal kan voorsien nie.

Die boer moet onthou dat die kwaliteit van die gras as gevolg van die rypwordingsproses verlaag en dat daar looisure, tanniene en harse in grasse is wat ook die voedingswaarde en die beskikbare proteïene beperk. Dit is noodsaaklik, om as die die boer weet van die beperkings in sy voeding, gedurende dié tyd van hulpmiddels soos Browse Plus gebruik te maak. Dit sal help om die gebonde proteïen wat in die veld teenwoordig is, af te breek en sodoende word meer proteïen vir die bees beskikbaar te deur die proteïen/looisuur-binding in die gras af gebreek.

Aanvullende lekke is altyd noodsaaklik. ’n Proteïenlek is noodsaaklik in die suurveld om die verteerbaarheid van die gras te verbeter. In baie gevalle is ’n produksielek aan te bevele.

Nie meer as 2 kg van so ’n lek moet egter per dag ingeneem word nie anders lei dit tot duur vervangingsvoeding.

Monitor verder die lekinname om seker te maak dat die aanbevole inname nie oorskrei word nie. Te veel inname van ’n ureum-bevattende lek sal vergiftiging en vrekte tot gevolg hê.

Onthou dat indien die ureuminname baie hoog is, maar nie tot vrekte lei nie, die ontwikkelende eiersel se kwaliteit benadeel word en dit sal konsepsie aan die begin van die volgende teelseisoen verlaag.

Te veel lekinname is ’n teken dat die koeie honger is omdat hulle nie meer genoeg droë materiaal vanaf die veld of oesreste kan inneem nie.

Spoorminerale

Die strategiese aanvulling van die noodsaaklikke spoorminerale met ’n produk soos Multimin is van kardinale belang. Ek beveel altyd vir my kliënte aan om die diere vier weke voor die begin van die teelseisoen te spuit, vier weke voor kalwing en vier weke ná kalwing.

Ek beveel ook spoormineraalaanvulling aan vier weke voor die begin van die jaarlikse inentingsprogram. Sodoende vul ons die minerale aan om die dier se lewer unksies te help om gedurende die tye wanneer die stres op die orgaan op sy hoogste is. Dit is wanneer goeie kwaliteit bies gevorm moet word en wanneer die volgende eisel beslag kry.

Die inspuitbare spoormineraal (Multimin) kan nie die minerale in die lek vervang nie, maar dit vul die vlakke aan omdat die spoorminerale se opname deur die bek teengewerk (antagoniseer) word deur ander minerale soos kalsium (Ca), yster (Fe), swael (S) en molibdeen (Mo) wat gewoonlik in lek, normale weidings, water en grond teenwoordig is.

Ontwurming

Laastens moet koeie teen rondewurm en lewerslak behandel word, waar van toepassing. Dikwels word net eenvoudig aanvaar dat volwasse beeste genoeg immuniteit teen rondewurms het en nie ontwurm hoef te word nie.

Naby kalwing verswak die diere se immuniteit en kan rondewurms egter ’n probleem wees. Onlangse proewe het getoon dat beeste ook onder stres verkeer gedurende die speen van kalwers, droogtetoestande, swak voeding en met verhoogde reën en in nat toestande.

Die interne parasietgetalle in die beeste het ook noemenswaardig gedurende die stresvolle tye verhoog.

’n Gewigstoename van 38,8 kg méér is verkry in ná speenverse wat ontwurm was, teenoor verse wat nie ontwurm was nie. Terselfdertyd het 50% meer verse vroeër op hitte gekom teenoor die onbehandelde groep verse. Verwydering van die interne parasiete na die winter help ook om die stres op die diere te verlaag en hulle sodoende te help om gouer op die teiken kondisietelling te kom.

Inspuitbare endektosiete is ook van groot hulp in die winter, veral teen

bloedsuipende luise wat in hierdie seisoen problematies kan wees asook teen die vroeë bloubosluis-besmetting wat in die lente probleme soos rooiwater en galsiekte kan veroorsaak.

Onthou dat geen lewerslakmiddel ’n residuele werking (nawerkingstyd) het nie en dat herbesmetting in vleikampe, by oop waters soos grond damme en lekkende krippe die volgende dag reeds moontlik is. Die gebruik van ’n produk wat sal verseker dat die onvolwasse parasiete so vroeg moontlik (tweeweke ouderdom) doodgemaak word, is van groot belang om die permanente skade wat aan die lewer aangerig word, tot ’n minimum te beperk.

Dit sal ideaal wees om die diere wat met sodanige produk behandel word, daarna na ’n “skoon” kamp te skuif waar nie besmettingsmoontlikhede bestaan nie en dan 14 dae later die diere weer te ontwurm om sodoende die vroegste stadium van die parasiet, wat tydens die eerste dosering nie in die lewer was nie, te dood.

Die probleem van interne parasiete (rondewurms) gaan gedurende hierdie somer groot verliese veroorsaak omdat daar tans baie ondergrondse vog teenwoordig is wat die uitbroei van die vorige seisoen se wurmeiers gaan bevorder sodra die temperatuur net effe verhoog.

Maak dus seker dat die diere se jaarlikse inentings teen die bakteriese siektes, soos die sponssiektegroep-bakterie, op datum is. Die hulpmiddels soos Browse Plus, Multimin-inspuitings en interne parasietbeheer saam met verbeterde voeding kan daartoe lei dat die diere ’n gewigstoename gaan toon. Dit kan weer tot siektes soos sponssiekte aanleiding gee.

Die kondisiebeginsels, parasietbeheer en spoormineraalaanvullings geld ook vir suiwelkoeie, wat beteken dat die koei nie kondisie mag verloor of betekenisvol toeneem tydens die droë periode nie.

Spesiale groepering en voeding tydens die laaste 21 dae voor kalwing in suiwelkoeie is van kritiese belang om metaboliese probleme soos sub-kliniese en kliniese kalsium- en magnesuimtekorte en ketose te voorkom en om die maksimum besetting teen 100 dae in melk te verseker.

Dit is noodsaaklik dat die boer moet onthou dat al die voedings-, bestuurs- en interne parasietbeheermaatreëls ook op dieselfde wyse op kleinvee van toepassing is. Die beginsels bly dieselfde, hoewel die hoeveelheid (in kilogram) van die lek en byvoedingsinnames verskil.

*Dr. Martin Ferreira praktiseer as veearts op Potchefstroom in Suid-Afrika en is 'n raadgewer vir Virbac. Hy het lank 'n maandelikse dieregesondheidsrubriek in Die Boer gehad.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!