Kubermisdaad bring kenners Namibië toe

By die 12de IST-Afrika-slypskool is gesê opleiding is die beste oplossing.
Augetto Graig
Augetto Graig



Internetkenners vanoor Afrika het dié week by die Safari-hotel in Windhoek bymekaargekom om kubermisdaad te bespreek en om inklusiwiteit van die wêreldwye web in Afrika te versterk.

Dié byeenkoms is gereël deur die Internasionale Instituut van ­Elektriese en Elektroniese Ingenieurs (IEEE) en die Nasionale Raad vir Navorsing, Wetenskap en Tegnologie (NCRST).

Die 12de jaarlikse IST-Afrika-slypskool, wat tot vandag nog duur, is die eerste in sy soort in Afrika.

Die nuwe adjunkdirekteur in die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie, me. Elizabeth Kamutuezu, het gesê die internet word in Namibië die meeste as kommunikasiemiddel gebruik, maar is die onveiligste.

Namibiërs geniet die gebruik van selfone met meer as twee miljoen SIM-kaarte in omloop.

Volgens Kamutuezu het 72,12% van die bevolking toegang tot die internet en amper 53% het toegang tot ­breëband-internet.

Sy sê Namibië het al ver gevorder om internettoegang te verseker. Hoogtepunte tot dusver was die aansluiting by die WACS- ondersese kabel in 2012, die gebruik van 143 poskantore landwyd, 7 755 km optiese veselkabel, 26 multisektorale gemeenskapsentrums, 57 TV-senders, 342 FM-senders, 193 Telecom-basisstasies en 661 MTC-basisstasies, waarvan 221 toegang tot breëband-internet verseker.

“Ons hoop om ons eie nasionale internet-bestuursforum te stig en het reeds 'n werkkomitee daarvoor gestig,” het Kamutuezu gesê.

Die forum word beplan vir Oktober vanjaar wanneer die ministerie hul ICT-beraad gaan hou.

Die komitee vir die vestiging van die land se eerste rekenaarvoorval-reaksiespan (CIRT) sal ook verslag doen oor hul vordering.

By dieselfde geleentheid het die adjunkdirekteur in die ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing, mnr. Nhlanhla Lupahla, genoem dat kuberveiligheidsbeleide en CIRT-spanne reeds in Kameroen, Uganda, Suid-Afrika, Mauritanië, Egipte, Mauritius en Kenia in werking is.

Hy sê die Internasionale Telekommunikasie-unie (ITU) is tans besig om Lesotho en Burundi te help om hul CIRT-spanne op die been te bring.

In Namibië word wetgewing van Wes-Afrika gebruik om plaaslike wette teen kubermisdaad op te stel.

Die nuwe reëls sal by die elektroniese transaksie- en kommunikasiewet en die kubermisdaadwet ingesluit word.

Uitdagings wat die land in die gesig staar sluit in lae tegniese kapasiteit en die onbeheerde groei van sosiale media, het Kamutuezu gesê.

“Wat sosiale media betref word ons oorval met klagtes, maar sonder die wet kan ons nog niks doen om teen misdadigers op te tree nie. Ons wil nie sosiale media reguleer nie, maar net dié wat misbruik word, beskerm. Dit is waarvoor die nuwe wet is,” het sy gesê.

Professor Basie von Soms, die direkteur van die kuberveiligheidsentrum by die Universiteit van Johannesburg (UJ), was 'n gasspreker by die geleentheid. Hy het gesê bewustheid is selfs meer effektief as wette om ­kubermisdaad te bekamp.

UJ bied sedert 2012 'n kursus in kubermisdaad-bewustheid en -opleiding aan, en volgende Januarie beplan hulle om dit aanlyn aan te bied.

Von Soms het gesê dié opleiding is die beste oplossing en is al so gewild dat die universiteit sukkel om die aanvraag te hanteer.

Hy het internetkenners uitgedaag om die voortou te neem om 'n soortgelyke kursus vir die hele vasteland te ontwikkel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!