Kudu-gasprojek gereed om af te skop
Kudu-gasprojek gereed om af te skop

Kudu-gasprojek gereed om af te skop

!Gawagab lê tuig by Namcor neer
Estelle de Bruyn
Die bo-stroom-projek van die Kudugas-tot-kragprojek is gereed om sonder regeringsfinansiering te begin.
Die uittredende direksievoorsitter van die Nasionale Petroleum Korporasie van Namibië (Namcor), mnr. Johannes !Gawaxab, het dit verlede week bekend gemaak.
In die petroleum- en gassektor verwys die bo-stroom-fase na die ontginning en produksiesektor. Stroomaf verwys na die raffinering van ruolie en die prosessering en verfyning van rou, natuurlike gas asook die bemarking en verspreiding van produkte van ruolie en natuurlike gas. Die middelstroom-fase behels vervoer, hetsy deur middel van ’n pypleiding, spoor, olietenker of tenkervragmotors; die berging en groothandelbemarking en verkoop van ru- en geraffineerde petroleumprodukte.
!Gawagab sê Namcor het daarin geslaag om ’n belegger, BW Kudu, te kry om met die projek te begin.
Die regering het verlede jaar halt geroep met die projek, omdat dit nie oor voldoende geld beskik het nie.
Die Noorweegse olie- en gasoperateur, BW Kudu, het 56 persent aandeelhouding bekom en die direksie van Namcor het in Maart vanjaar die ooreenkoms aan die minister van myne en energie, mnr. Obeth Kandjoze, voorgelê. Dit was gedoen sodat ’n lisensie aan die belegger uitgereik kan word en met die werksaamhede begin kan word.
Die oorblywende 44 persent aandele sal op tender aan belangstellende maatskappye, sowel plaaslik as internasionaal, beskikbaar gestel word sodat hulle kan aansoek doen.
Die projek sal gas vir kragopwekking voorsien.
Volgens !Gawaxab sal die 800 megawatt projek in Namibië se energiebehoeftes voorsien. “Gas is ons eie bron, skoon en bekostigbaar,” het hy gesê.
Die totale koste van die projek sal digby die N$1 miljard wees.
!Gawagab het egter daarop gewys dat die probleem nie by Namcor lê nie, maar NamPower staar sekere beperkinge in die gesig wat die ontwikkeling stuit.
Die Kudu-projek, sê hy, is een van die prestasies van Namcor die afgelope vyf jaar.
Nog ’n prestasie is volgens !Gawaxab die feit dat Namcor daarin geslaag het om die operasionele bestuur van die massa-brandstofopgaarplek wat tans op Walvisbaai in aanbou is, tot aan die einde van 2017 te bekom.
Namcor het gevolglik sy personeel van 38 in 2012 tot 93 vanjaar vermeerder ten einde voor te berei om die werk te doen.
Oor die pad vorentoe het !Gawaxab gesê die maatskappy het ’n sakeplan aan Kandjoze voorgelê om ’n mandaat van 50 persent vir die invoer van petroleum en verwante produkte te kry. Die maatskappy het dit in 2010 verloor en dit het tot ’n verlies van meer as N$280 miljoen gelei.
!Gawagab het ook sy uittrede as direksievoorsitter van Namcor aangekondig.
Tydens ’n afskeidsgeleentheid het die waarnemende besturende direkteur, me. Damoline Muruko, gesê die maatskappy het die afgelope jare onder !Gawagab se leiding op alle fronte, operasioneel asook finansieel, gegroei.
!Gawagab het op sy beurt gesê hy het die doelwitte wat hy vir homself gestel het, bereik en gevolglik het die tyd aangebreek om vir nuwe bloed plek te maak.
“Ek was vir vyf jaar hier en my termyn verstryk op 30 September 2016,” het hy gesê. Die volle direksie lê nou die tuig neer.
Hy wys daarop dat Namcor in 2012, toe sy termyn begin het, tegnies bankrot was en dat bestuur veel te wense oorgelaat het. Boonop was daar wantroue van die personeel se kant in ’n wanfunksionerende direksie.
Hierdie probleme is uitge­stryk en ’n visie en werkende strategieë is ingestel. In 2012 het Namcor ’n inkomste van N$307 miljoen gehad en vandag staan dit op N$649 miljoen. Vanweë die laer olieprys is die inkomste effens laer as verlede jaar toe dit op N$697 gestaan het.
Die verdienste vóór belasting was in 2012 N$47 miljoen en vanjaar staan dit op N$148 miljoen.
Die uittredende direksie laat ook die maatskappy met ’n stewige bankbalans van N$400 miljoen.
Hierbenewens is ’n sterk bestuursraamwerk gevestig, agterstallige geld is ingevorder en die balansstaat is geherstruktureer. 
- Nampa/Eie berig

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!