Kudus vervang United in topvier

Klubs in die premierliga veg verwoed om tot die semifinaal deur te dring.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die Walvisbaaise klub Kudus het Saterdag indrukwekkend gelyk toe hulle Trustco United in Olympia kom verniel het om by laasgenoemde verby te skuif op die puntelys van die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga.

Kudus se oorwinning met 40-31 het hulle tot die vierde plek laat klim ten koste van United – met nou net een ligapunt verskil tussen die twee (25 teen 24).

Kudus was ooglopend baie vasbeslote om ondanks sterk teenstand die uitslag in hul guns te beklink en het ná vier minute die voortou geneem met 'n strafdoel deur heelagter Lloyd Jacobs.

Met 'n drie deur heelagter Riaan van Zyl wat hyself verdoel het, het United met 7-3 voorgeloop.

Ná nog 'n Jacobs-strafdoel vir Kudus het senter Henry Kandjou vir die tuisspan se tweede drie deurgehardloop wat Van Zyl weer verdoel het (14-6).

Kort ná die halfuurmerk het Jacobs die Walvisbaaiers se eerste drie gaan druk, voordat hyself die ekstra twee punte geskop het.

Daar was nog genoeg tyd voor rustyd vir beide spanne om 'n drie by te voeg – eers die Kudus-flank Gilad Plaatjies, verdoel deur Nash, voordat United se aanwins op losskakel, die voormalige Goue Leeus-losskakel Earl Rose, deurgedraf het vir 'n drie wat Van Zyl verdoel het.

United het dus ná 40 minute met 'n voorsprong van 21-20 omgedraai, maar Kudus het die volgende treffer geplant met nog een van Jacobs se strafdoele.

Die telling het egter steeds wipplank bly ry met United se vierde drie deur slot Lionel Nantes net drie minute later, opnuut verdoel deur Van Zyl.

Elf minute later het Jacobs 'n kans met 'n strafskop verbrou, maar die woelige flank Gilad Plaatjies het sy tweede drie van die dag gaan druk wat die vleuel JR Jacobs oorgeskop het.

Kudus het die druk op die telbord verder laat oplaai toe die plaasvervanger Percy Nash gaan druk het om die besoekers met 37-28 voor te plaas, met omtrent sewe minute oor.

Die United-senter Mbimbo Mbai het sy span hoop gegee met 'n laat drie, maar Kudus se plaasvervanger Ivo Croza het met 'n skepdoel-treffer die laaste sê gehad.



WANDERERS AAN WENKANT

Ná 'n oomblik van stilte uit eerbied vir FNB Wanderers-rugbyklub se groot gees Oom Daantjie Louw (82) wat laas week gesterf het, het die tuisspan met swart bande om die arms stelselmatig 'n wentelling teen Reho Falcon opgestapel.

Die Wit Hingste was met 66-10 (tien drieë teen een) baas nadat hulle rustyd reeds met 40-10 die kitaar geslaan het.

Beide spanne se posisies op die puntelys bly onveranderd – Wanderers tweede en Falcon laaste uit sewe spanne.

Reeds voor rustyd het heelagter Rudi Pretorius, vleuel Ryan Coetzee, binnesenter Hendrik Lategan, agtsteman Driaan Vorster (2) en flank Dirk de Meyer vir die wenspan drieë gedruk.

In die tweede helfte het Coetzee, Lategan, De Meyer en vleuel Gurtley Beukes nog drieë bygevoeg.

Binnesenter Lategan, wat met sy baard nie juis misgekyk kan word nie, lyk na 'n harde speler wat as nuweling vir Wanderers goeie insette kan lewer.

Wanderers se stelskopper-vonds van die seisoen, Rudi Pretorius, het nie net op die aanval sy spoed en selfvertroue met 'n paar soms onnodige jakkalsdraaie gewys nie, maar sommige van sy agt doelskoppe het van die kantlyn af oorgeseil.

Halfpad deur die tweede helfte het Wanderers hom 'n ruk lank met 13 spelers bevind, ná 'n rooi kaart vir skrumskakel Dian von Solms en geel kaart vir flank Dirk de Meyer. Die voorval het onbenullig begin toe 'n fluitjie vir Von Solms teruggeroep het, maar 'n gepluk en stoeiery met een of twee Falcon-verdedigers het uitgebreek.

Skeidsregter Nicardo Pienaar het ná beraadslaging met sy vlagman beslis dat Von Solms 'n man met die kop bygekom het, terwyl De Meyer koelkas toe is omdat sy span tevore gewaarsku om nie by voorvalle betrokke te raak nie.

Met die laaste beweging van die wedstryd het Reho Falcon se flank Greg Stein ook 'n rooi kaart gekry – volgens die blaser omdat Stein met sy kop 'n opponent teen die kakebeen bygekom het.

Stein was in die eerste helfte sy span se enigste driedrukker, met losskakel Casey Beukes wat 'n doelskop en strafdoel bygevoeg het.

Die jong Reho Falcon-span se wenlose rekord wys nie juis beloning vir die tye wanneer hulle ondernemende aanvallende rugby gespeel het nie. Vleuel Donaville Lebereki is maar net een van hul agterspelers wat heelwat talent het.

UNAM BLY WEN

Die FNB Universiteit van Namibië het Saterdag te make gehad met 'n Rehoboth-rugbyklub propvol selfvertroue, nadat 'n paar opeenvolgende oorwinnings hom terug in die wedloop vir die semifinale geplaas het.

Unam, die voorloper en kampioenspan van die laaste drie jaar, moes 'n eerlike dag se werk insit om met 31-7 te wen.

Rehoboth was inderdaad eerste voor (7-0) toe Xavier van Wyk ná tien minute gaan druk en Howard Titus oorgeskop het.

Unam het egter aan die gang gekom en die flank Simon Haitembu se verdoelde drie het sake gelykop gemaak.

Skrumskakel Jay-C Olivier, voorheen van die Namibiese en Blou Bulle o.20-spanne, het sy kans in die beginspan voor Cameron Klassen met 'n drie laat geld.

Danksy linkervleuel Denver Murorua se twee doelskoppe was die rustydtelling 14-7.

Ná rustyd moes Unam eers 'n ruk lank verdedig toe Rehoboth in sy helfte kamp opgeslaan het. 'n Geel kaart vir Howard Titus vir 'n hoogvat was egter 'n keerpunt, met Unam se binnesenter Camlo Martin wat kort daarna deurgesny het vir 'n verdoelde drie (21-7).

Unam se vierde drie was 'n strafdrie, voordat Murorua vir oulaas 'n strafdoel bygevoeg het.

Unam se afrigter Johan Diergaardt het agterna gesê sy spelers het afgedwaal van die wedstrydplan waarop besluit was.

“Dit was 'n rukkerige wedstryd waarin ons nie ons gehalte op die spel kon afdruk nie. Ons het ons taktiek beplan om die uitslag reeds vroeg in ons guns te beklink, maar ons kon dit nie regkry nie.”

• Die huidige puntestand:

1 Unam 45 punte ná 10 wedstryde

2 Wanderers ná 8

3 Western Suburbs 27 ná 9

4 Kudus 25 ná 9

5 United 24 ná 9

6 Rehoboth 19 ná 9

7 Reho Falcon 1 ná 9

- Bykomende inligting deur Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!