Kuisebmond se gevalle kring uit

Vier van die Covid-19-gevalle wat oor die naweek in Walvisbaai aangeteken is, het geen kontak met ’n bevestigde geval gehad nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die tweejarige seun, broer en pa van ’n 26-jarige man van Kuisebmond in Walvisbaai wat tans in ’n isolasiesaal by ’n hospitaal op die dorp vir Covid-19-verwante simptome behandel word, is onder die nuutste gevalle van die siekte wat sedert Vrydagaand landswyd met 15 gestyg het.

Vier uit die 12 nuwe gevalle in Kuisebmond het geen kontak met ’n bevestigde geval gehad nie.

Die 26-jarige man was Namibië se 35ste bevestigde Covid-19-geval, met laasgenoemde wat oor die naweek en teen druktyd op 55 gestaan het.

Die polisiebevelvoerder in die Erongostreek, Andreas Nelumbo, het intussen gesê geen nuwe reispermitte sal tot verdere kennisgewing op enige plek in die streek uitgereik word nie.

Vrydagaand is vyf nuwe gevalle – almal kontakte van ’n 39-jarige Namibiese vrou wat by korrektiewe dienste op die hawedorp werk (geval 34) – deur die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), dr. Kalumbi Shangula, aangekondig. Geval 34 was op haar beurt ’n kollega en kontak van geval 32 wat ook by korrektiewe dienste op die hawedorp werk.

MoHSS, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), die Walvisbaaise munisipaliteit en ander rolspelers het ’n Covid-19-toetssentrum by die gemeenskapsentrum in Kuisebmond ingerig.

Dit vorm deel van MoHSS se toetsstrategie om soveel as moontlik mense in die Walvisbaai-omgewing te toets as deel van ’n aktiewe soektog om nuwe gevalle te identifiseer en kontakte na te speur.

Geval 47 is ’n 28-jarige vrou van Kuisebmond wat getoets is as deel van aktiewe toetsing vir gevalle in die woonbuurt. Geval 48 is ’n tweejarige seuntjie van Kuisebmond en ’n kontak van geval 35. Geval 49 is ’n 33-jarige vrou van Kuisebmond wat deel was van aktiewe toetsing in die woonbuurt. Geval 50 is ’n 28-jarige vrou wat van Indië via Suid-Afrika na Namibië gereis het en in kwarantyn getoets is.

Geval 51 en 52 is beide tydens aktiewe toetsing in Kuisebmond geïdentifiseer – ’n 36-jarige vrou en ’n 28-jarige vrou. Geval 53 is ’n 56-jarige man van Kuisebmond en ’n kontak van geval 35.

Geval 54 is ’n 21-jarige man van Kuisebmond en ’n kontak van geval 35 en geval 55 is ’n 65-jarige Namibiese vrou wat op reis uit Suid-Afrika teruggekeer het.

Tot op hede word 293 aktiewe kontakte van bevestigde gevalle gemonitor, terwyl 700 mense tans in kwarantyn in geriewe oraloor in die land is. Tot op hede is 7009 weefselmonsters getoets.

’n Namibiese vrou (31) wat op 17 Junie van Pretoria na Namibië gereis het, is Namibië se 46ste bevestigde Covid-19-geval. Sy is in kwarantyn opgeneem waar sy positief getoets het. Vyf gevalle is kontakte van geval 34.

Geval 41 is ’n tienjarige meisie van Walvisbaai, die dogter en kontak van geval 34. Sy is vandat sy as kontak geïdentifiseer is, in kwarantyn en toon geen simptome nie.

Geval 42 is ’n 40-jarige man van Walvisbaai en ook ’n kontak van geval 34. Hy toon geen Covid-19-verwante simptome nie.

Geval 43 is ’n 38-jarige vrou van Walvisbaai en kontak van gevalle 32 en 34. Sy was in kwarantyn sedert sy as kontak geïdentifiseer is.

Geval 44 is ’n 36-jarige man van Walvisbaai en kontak van geval 34. Hy toon geen simptome nie en was in kwarantyn sedert hy as kontak geïdentifiseer is.

Geval 45 is ’n 28-jarige vrou van Walvisbaai en kontak van 34. Ook sy was in kwarantyn sedert sy as kontak geïdentifiseer is.

Intussen moes verskeie kantore sluit nadat personeel moontlik met geval 33 in kontak was. Air Namibia se hoofkantoor in Windhoek sal tot Sondag 5 Julie gesluit wees.

Dit volg nadat een van Air Namibia se personeellede Maandag ’n besoek by die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) afgelê het. Een van NAC se personeellede woon in die 77 on Independence-woonstelblok in die hoofstad waar die Covid-19-geval 33, ’n 35-jarige Suid-Afrikaner wat ’n week gelede na bewering by Noordoewer oor die Oranjerivier gesmokkel was.

NAC se hoofkantoor sal tot Maandag 6 Julie gesluit wees. Dit volg nadat een NAC-werknemer wat by 77 on Independence bly, moontlik aan geval 33 blootgestel was. Ook die ministerie van landbou, water en grondhervorming sê drie van sy werknemers was moontlik aan geval 33 blootgestel en het vervolgens die direktoraat van waterbestuur, die aktekantoor en ook grondhervorming gesluit.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!