Kulturele transformasie vir vroueregte
Kulturele transformasie vir vroueregte

Kulturele transformasie vir vroueregte

Poligamie, gedwonge huwelike, weduwees wat “geërf” word, die “reiniging” van weduwees, “droë” seks, asook hoë lobola-pryse is van die skadelike kulturele praktyke wat oral in die land plaasvind.
In Namibië word vroue se reg steeds geskend om in beheer van hul eie liggame en lewens te wees.

As gevolg hiervan het die Vroueleierskapsentrum (WLC) verlede week ’n mediaopleidingsessie oor menseregte en kultuur op Katima Mulilo aangebied.

Hierdeur is 'n platform vir tradisionele leiers van drie tradisionele owerhede, asook vir gemeenskapsleiers en lede van die Libula- en Chinchimane-nedersettings in die Zambezistreek geskep om kulturele transformasie en die beskerming van vroueregte met die media te bespreek.

Die werksessie het nasionale wette en internasionale instrumente bespreek wat die menseregte van meisies en vroue in Namibië beskerm.

"Daar is geanaliseer hoe skadelike kulturele praktyke in verskeie gemeenskappe oral in die land hierdie meisies en vroue se regte skend en aan alle vorms van geweld blootstel, asook aan 'n hoë risiko om MIV/vigs op te doen," lui 'n verklaring van die WLC.

"Deelnemers was geskok om uit te vind die voorkoms van MIV onder vroue wat die afgelope agt jaar op Katima Mulilo getoets is in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se tweejaarlikse opnames was veel hoër as by enige ander toetssentrum in die land. In 2016 was die voorkoms van vroue in die ouderdomsgroep 25 tot 49 jaar 44,2% op Katima Mulilo in vergelyking met die nasionale gemiddeld van 24%."

Volgens die WLC het deelnemers saamgestem dat verskeie kulturele praktyke kindermishandeling is en dadelik gestop moet word om meisies teen geweld en blootstelling aan MIV/vigs te beskerm.

Die kulturele praktyke sluit in dat jong meises gedwing word om hul labia minora (binnelippe van die vagina) te rek, dat hulle aan die inisiasiepraktyk genaamd sikenge blootgestel is, wat die sny van meisies se liggame behels, en dat hulle geslaan word en aan seksuele gereedheidstoetse deur manlike familielede onderwerp word.

"Tradisionele leiers en gemeenskapslede het hulle sterk uitgespreek teen poligamie, gedwonge huwelike, weduwees wat ‘geërf’ word, die ‘reiniging’ van weduwees, ‘droë seks’, asook hoë pryse van lobola. Hulle meen hierdie praktyke skend die reg van vroue om in beheer van hul eie liggame en lewens te wees en lei tot die hoë voorkoms van MIV in die Zambezistreek," sê die WLC.

Volgens die WLC het deelnemers die drie menseregteorganisasies van die Verenigde Nasies (VN) se onlangse voorstelle verwelkom om skadelike kulturele praktyke te voorkom en vroueregte te beskerm.

"Hulle het veral voorstelle van die komitee van die Konvensie vir die Eliminering van alle Vorme van Diskriminasie teen Vroue (CEDAW) verwelkom, wat die implementering van dié konvensie monitor," het die WLC gesê.



"Joernaliste van die NBC se Silozi-diens en Caprivi Vision het saamgestem dat die media 'n belangrike rol speel in die bevordering van menseregte deur kulturele transformasie."

Die WLC werk reeds vir meer as 12 jaar in die Zambezistreek om ’n einde aan skadelike kulturele praktyke te maak.

Die mediaopleidingsessie is deur die Britse hoëkommissariaat in Namibië geborg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!