Kunene vra vir trofeejagkwotas
Die minister van die omgewing en toerisme meen leeus is 'n nasionale bate en lok toeriste, maar gemeenskappe in die Kunenstreek wil trofeejagkwotas vir dié diere en olifante hê.
Francoise Steynberg - Altesaam 13 leeus is al vanjaar in die Kunenestreek gedood waarvan drie onwettig vergiftig is, maar 'n vereniging in dié streek wil leeus en olifante vir trofeejag op 'n veiling vir die internasionale mark aanbied om mens-leeu-konflik te verminder.
Die voorsitter van die KRCCA (Kunene Regional Community Conservancy Association), mnr. Gustaph Tjiundukamba, het Dinsdag aan Nampa gesê 'n versoekskrif is twee weke gelede aan die ministerie van die omgewing en toerisme gestuur.
Intussen het die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, Maandag tydens 'n nuuskonferensie in die hoofstad bevestig altesaam 13 leeus is vanjaar weens mens-leeu-konflik in die Kunenestreek gedood.
"Een leeu is deur 'n professionele jagter met 'n jagpermit in die Puros kommunale bewaringsgebied geskiet. Drie leeus (van die dokumentêre rolprent Vanishing Kings) is onwettig deur die gemeenskappe vergiftig, terwyl nege ander leeus deur boere en gemeenskappe geskiet en gedood is," het Shifeta gesê.
Hy het gesê altesaam tien leeus is reeds vanjaar weens mens-leeu-konflik onwettig afgemaai, waarvan drie leeus juis in die Kunenestreek vergiftig is. Die ander sewe wat vanjaar onwettig geskiet is, is ses in die Omusatistreek en een in die Oshanastreek.
Volgens Shifeta kom leeus in die Kunenestreek hoofsaaklik voor in die gebiede naby die Skedelkus Nasionale Park langs die riviere Hoarusib, Hoanib, Uniab, Huab en Springbok, asook om die toerismekonsessies van Hobatere, Etendeka en Palmwag, waar mens-leeu-konflik voorkom.
"Gebiede waar hoë vlakke van voorvalle gerapporteer is, sluit in die kommunale gebiede van Torra, Anabeb en Sesfontein langs die Palmwag-konsessie, en die Puros kommunale gebied. Die Torra kommunale gebied is veral problematies langs die Huabrivier en noord van Bergsig," het Shifeta gesê.
Hy het gesê die Ehirovipuka kommunale gebied teenaan die Hobatere-konsessie het ook konflik met leeus aangemeld.
Leeus is reeds in al hierdie bewaringsgebiede deur boere gedood.
LEEUS LOK TOERISTE
Shifeta het gemaan oor die klein bevolking van die woestynaangepaste leeus langs die grense van die Skedelkuspark.
"Hierdie leeus wat in erge woestyntoestande oorleef, het tot die groei in toerisme gelei, want nêrens in die wêreld kan vrylopende leeus tussen sandduine of op die strand gesien word nie."
Hy meen leeus moet as 'n nasionale bate vir Namibië geag word en tot die maksimum voordeel van die Namibiese mense goed bestuur word.
TROFEEJAGKWOTAS VERSOEK
Tjiundukamba sê egter buiten die inkomste wat die gemeenskap kan kry, sal die trofeejagkwotas help om die groeiende leeubevoking in die Kunenstreek te verminder wat mens-dier-konflik vererger het, veral in die Sesfontein-gebied.
"Ons het in ons versoekskrif die minister gevra dat jaarlikse jagkwotas vir hierdie diere aan ons toegestaan word, sodat dit ons bewaringsgebiede kan bevoordeel wat direk geraak word," het Tjiundukamba gesê.
Die voorsitter van die Ehirovipuka kommunale bewaringsgebied, mnr. Asser Ujaha, het gesê vergoeding aan boere wat hul vee weens roofdieraanvalle verloor het, is dikwels 'n kwessie nie.
“Dit is baie moeilik om boere vir hul verliese te vergoed, want die geld wat ons as bewaringsgebiede van die regering ontvang, kom dikwels stadig in,” het Ujaha gesê.
Die KRCCA het twee weke gelede tydens 'n jaarvergadering by Otjokavare sy versoekskrif met behulp van die Sesfontein-kiesafdeling se raadslid, mnr. Julius Kaujova, aan die ministerie oorhandig. Die oorhoofse kommer volgens die versoekskrif is die mens-leeu-konflik in die Kunenestreek.
Kaujova het bevestig die versoek het dié week die minister bereik wat glo belowe het om die streek binnekort te besoek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie