Kunenerivier spring sy walle

Sommige akkommodasieplekke is gesluit en paaie is onbegaanbaar.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Met die Kunenerivier wat in vloed is en sy walle oorstroom het, is verskeie lodges en kampeerterreine langs die rivier gesluit en sommige paaie is onbegaanbaar.

Volgens die hidrologiese dienste van Namibië word sterk riviervloei in die noordwestelike deel van die Kunene-opvangsgebied verwag en gemeen­skappe word gewaarsku om die rivier nie oor te steek nie.

Sommige paaie in die omgewing is weggespoel, onbegaanbaar of in 'n baie slegte toestand.

Kunene River Lodge en Omujandi-ruskamp het oorstroom en het bevestig hulle is vir gaste gesluit.

“Weens hewige reënval in Angola en die vloed is Kunene River Lodge genoodsaak om vir die volgende sewe dae tot verdere kennisgewing te sluit,” lui Kunene River Lodge se Facebook-blad.

Me. Katja Haase, Journeys Namibia se bemarkingsbestuurder, het gister aan Republikein bevestig dat Kunene River Lodge oorstroom is.

“Nie die hele lodge is oorstroom nie, maar wel die onthaalarea en die kampeerterrein. Ons het gaste hier gehad, maar hulle is ontruim. Ons is besig om ons gaste te kontak wat besprekings gemaak het,” het Haase gesê.

“Ons weet nie hoeveel water nog gaan kom nie en tot verdere kennisgewing sal die lodge weens voorkomende veiligheidsmaatreëls gesluit wees. Ons het nou hier met Moeder Natuur te doen, wat ons nie kan beheer nie,” het Haase verduidelik.

Die Omujandi-ruskamp, wat sowat 12 km van die Ruacana-valle en 25 km van Ruacana af geleë is, het ook oorstroom.

Me. Hanta Potgieter van Omujandi-ruskamp het gister aan Republikein gesê hulle was Woensdagnag gelukkig op Ruacana toe hul ruskamp oorstroom het.

“Ons werkers het Donderdagoggend vroeg gebel en gesê daar is groot moeilikheid. Hulle is gelukkig veilig, want hul huise is hoog geleë. Ons skape is ook op 'n veilige hoogte van die krokodille wat nou volop in die rivier is,” het Potgieter gesê.



SKADE

Sy sê sy het gisteroggend haar dogter, me. Johanna Herridge, na die ruskamp gestuur om die skade te besigtig.

“Die tente en van die meubels het weggespoel, die yskaste dryf in die rivier, van ons katte en hoenders het verdrink, die eendjies het weggeswem en die swembad is heeltemal onder water. My rondawel se deur kan nie oopgemaak word nie, want dit is vensterhoogte onder water,” vertel Potgieter.

“Ons weet in hierdie stadium nie wat van ons het weggedryf het en wat nie. Gelukkig het ons ons honde saamgebring Ruacana toe en my dogter kon van ons katte en hoenders uit die bome red wat sy sal dorp toe bring.”

Potgieter sê die riviervlak styg steeds.

Boonop sou Rey van Rensburg van die bekende TV-reisprogram Voetspore en 'n groep van 12 mense gisteraand by Omujandi oornag, maar Potgieter moes vir hulle ander blyplek op Ruacana reël.

“Ek waarsku maar die ­toeriste dat van die paaie verspoel het of ­onbegaanbaar is. Ek sal seker eers oor 'n week na Omujandi kan terugkeer.”

Me. Anna-Maré van Schalkwyk van die Ruacana-gastehuis op Ruacana het gister aan Republikein gesê die Ruacana-valle is tans 'n waterskouspel.

“Dit reën steeds op die dorp, baie bome het omgeval en ons het Woensdagaand selfs 'n haelstorm beleef.”

Sy het gesê toeriste stroom nou in om die Ruacana-valle te sien en die gastehuis is vol bespreek.

Volgens die hidrologiese dienste is riviervlakke steeds besig om te styg met die Zambezirivier wat nou 6,53 meter diep by Katima Mulilo meet.

Die Kavangorivier meet nou 6,28 meter by Rundu en 4,1 meter by Nkurenkuru, terwyl die watervlakke van die Cuvelai-opvangsgebied steeds styg.

REëNVALSYFERS

Reënvalsyfers wat op die Facebook-blad “Reën in Namibia” gerapporteer is, is op die plaas Galloway op die Kalkplato in die Mariental-distrik 48 mm, Kapps Farm 40 mm, Elisenheim 31 mm, Herboth's Blick 26 mm, Tsumeb 24 mm, Heja Lodge 23 mm, Omaruru 20 mm, Academia 15 mm, Hochlandpark 14 mm en die plaas Godeis sowat 70 km wes van Windhoek in die Khomas Hochland 10 mm.

By Grootberg in die Kunenestreek het die Kliprivier gevloei. In die Suide was daar gister op Karasburg 'n wolkbreuk wat met hael gepaard gegaan het en buie het ook by Grünau en Schlip voorgekom.

Die Namibiese weerkantoor het weer 'n weerwaak uitgereik en waarsku teen wydverspreide donderbuie wat op plekke oor die noordwestelike en suidoostelike streke kan voorkom, asook oor die sentrale hooglande.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer