Kuns in die Ooste

Die NG Kerk op Gobabis hou as toevoeging tot hul jaarlikse basaar 'n kunsuitstalling.

Die uitstalling word op 22 Maart om 18:00 deur Fonk Genis, 'n boer en kunskenner van die omgewing, geopen.

Dit sal vandag en môre oop wees vir die publiek.

Die reaksie daarop was oorweldigend.

Groot name sal saam met onbekendes en dorps- en kontreimense uitstal - bloot vir die lekker en die liefde daarvan. Kunstenaars van alle genres het sedert Oktober 2017 weggespring en nuwe werke vir hierdie geleentheid begin skep.

Aloe Optical het die eerste vloer van hul nuwe gebou in Gobabis se hoofstraat gratis beskikbaar gestel.

Sowat 21 diverse kunstenaars vanoor die hele land neem deel aan hierdie grootse poging en die werke word te koop aangebied.

Daar is nege skilders, vier fotograwe, twee wewers, twee pottebakkers, ’n beeldhouer, digitale kuns, Chameleon Glassart, asook juwele van SAN Alive.

Werke van die bekende kunstenaars Francois de Necker, Amy Schoeman, Doerte Berner, Johann van der Merwe en Mariki Grobler word onder meer vertoon en te koop aangebied.

Die uitstalling sal Gobabis ’n kulturele inspuiting gee en besoekende ruiters en perde-eienaars van die Stephanus Pienaar/SanDune-uithourit word ook by die uitstalling verwelkom.

Dit word ook as ’n leerskool vir skoliere en studente beskou en die inwoners van die aftreeoord op die dorp word Vrydagoggend spesiaal verwelkom.

Sowat 10 van die kunstenaars sal die opening van die uitstalling bywoon.

Hierdie is 'n fondsinsamelingspoging en sal vir die Gobabis-gemeenskap ’n vreugdevolle ervaring wees.

Navrae kan gerig word aan Wilma by 062 562 277 of Johan by 081 129 9761.

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer