Kuns is in haar bloed
’n Plaaslike kunstenaar het in September twee toekennings vir haar animasiewerk ontvang. Sy gesels oor dié reis, haar ander projekte en haar tuisdorp.
Yandi du Plessis
Erentia Bedeker se wortels lê in die dorre Khorixas, die Noordweste-dorpie met sowat 6 000 inwoners.
Hoewel haar agtergrond as “beskeie” beskryf kan word, het dit haar nie gekeer om haar drome na te jaag nie. Vandag kan sy as ’n internasionaal bekroonde kunstenaar beskryf word nadat die animasiekortfilm Ruby & Roach wat sy geanimeer het, strawwe kompetisie geklop het om met twee toekennings by die Durban Internasionale Filmfees bekroon te word.
“Ek het nog altyd geglo waar jy vandaan kom, hoef jou nie terug te hou om sukses te behaal en groot te droom in die lewe nie. Party mense mag dink dat jy met ’n agterstand in jou loopbaan begin net omdat jy van ’n klein dorpie af kom waar jy nie noodwendig al die geleenthede gehad het wat kinders in die stad gehad het nie.”
Erentia glo haar “nederige” agtergrond het haar voorberei op harde, eerlike werk. “Khorixas en Damaraland is die bron van inspirasie, direk of indirek, vir baie van my werk en dit is vir my ’n veilige hawe waarheen ek altyd kan terugkeer.”
Oor haar internasionale sukses vertel sy: “Ek is nie seker hoe om my gevoel oor dié mylpaal te beskryf nie, trots en dankbaar natuurlik, maar tegnies gesproke is ek steeds ’n klein vissie in ’n baie groot dam, so ek belowe om aan te hou hard werk vir my land en my nederige tuisdorp!”
Dit is veilig om te sê kunssinnigheid is in haar bloed. Haar ma, Emmie Bedeker, is vanjaar as die wenner van die kortverhaal-kategorie vir die Windhoek Woordfees-skryfkompetisie aangewys. Haar pa, Chris Bedeker, is veral in die Kamanjab-Khorixas-omgewing bekend vir die leerprodukte wat hy maak.
“Ek het my liefde vir kuns beslis by my ma én my pa geërf. My ma het my geleer om lief vir woorde te wees, en my pa het my geleer om met my hande te werk. En hulle het my naby aan die aarde grootgemaak. Ek glo mens kan net skep as jy self naby aan die skepping leef.”
Erentia is ’n kunssinnige in elke sin van die woord. Nie net is sy ’n voltydse skrywer en filmmaker (animasiekunstenaar) nie, sy werk ook as ’n aflosonderwyser, ’n webassistent vir Versindaba, en poppespeler vir Bizzy Hands Puppet Company – “om maar ’n paar te noem”.
“Hulle sê mos as jy drama geswot het, kan jy enigiets doen. Dit is rêrig so, want jy moet!”
Haar twee groot liefdes is egter poësie en flieks, en sy het ’n manier gevind om dié twee te kombineer.
“My eerste solo-animasieprojek was vir Filmverse, ’n projek wat deur die ATKV geborg is om nuwe lewe in Afrikaanse poësie te blaas. Vir die projek het verskeie kunstenaars (baie min van ons was in der waarheid opgeleide animeerders) animasiekortfilms gemaak, gebaseer op of geïnspireer deur Afrikaanse gedigte.
“Ek het Boerneef se ‘Die berggans het ’n veer laat val’ gekry om te animeer. Dit was vir my lekker, wel ook uitdagend, om die gedig visueel uit te beeld. Met ’n poësiefilm wil ’n mens nie net die gedig illustreer nie. Jy wil nog ’n laag betekenis met die visuele bysit wat die gedig versterk en verder bydra tot die interpretasie-moontlikhede en boodskap daarvan,” vertel Erentia.
’n Goeie gedig is een wat sterk beelde oproep, voeg sy by.
“Ek wil sien, voel en ruik dit waaroor die digter skryf. In daardie opsig was dit vir my ’n baie natuurlike samevoeging van dié twee liefdes. Ek maak nou poësie met prentjies.”
‘RUBY & ROACH’
Suid-Afrika het nie ’n vreeslike mark vir kortflieks nie, nog minder vir animasiekortfilms, verduidelik sy.
“Stop-aksie animasiefilms het ’n baie spesifieke nismark en gehoor, so ons moet maar ons films vir elke moontlike fees, nasionaal en internasionaal, inskryf. Filmfeeste bied die beste blootstelling en platform vir ons as onafhanklike filmmakers om ons werk by die regte gehoor uit te kry.”
Die Durban Internasionale Filmfees is een van die groter feeste in Suid-Afrika waarby Ruby & Roach ingekom het. Weens die Covid-19-regulasies in daardie stadium kon Erentia en die res van die produksiespan nie self die fees bywoon nie. Gewoonlik bied die filmfeeste ook wonderlike netwerkgeleenthede, “wat ons ongelukkig nie vanjaar beskore was nie”.
“Die toekennings was ’n baie groot verrassing. Ons het dit glad nie verwag nie. Ek het ongelukkig nie al die kortflieks gesien wat by die fees gewys het nie, so ek kan glad nie iets oor die kompetisie sê nie. Maar wat wel opvallend was, is die feit dat daar slegs een ander animasiekortfilm was. Die ander was alles live action.
“Gewoonlik het feeste afsonderlike kategorieë vir animasie- en live action-kortfilms. Ek dink dit sê nogal iets van Ruby & Roach dat hulle hul man kon staan teen soveel regte akteurs en aktrises!”
Die fliek het die toekennings vir beste Suid-Afrikaanse én beste Afrika-kortflim ontvang. “Ons is baie trots en geëerd met dié twee toekennings en die erkenning wat daarmee gepaard gaan.”
Tot op hede is Ruby & Roach reeds by 20 filmfeeste gewys. Hulle het in Kroasië begin en van daar gereis na onder andere Italië, Griekeland, Turkye, Bulgarye, Afghanistan, Israel, Mexiko, Argentinië en Ghana.
“Ons kry nie altyd direk terugvoer van die feeste af nie, maar die feit dat jou film gekies word uit die hordes aansoeke, beteken tog dat die feeskomitee van jou werk gehou het.”
Die ICONA 2020 aanlyn fees in Griekeland het meer as 1 200 inskrywings ontvang waarvan slegs 215 gekeur is. Vir die sesde Herat International Women’s Film Festival in Afghanistan is 3 500 flieks uit meer as 123 lande ingeskryf.
By die Author’s International Film Festival in Mexico was Ruby & Roach een van slegs vier animasiefilms wat vertoon is, en Erentia vertel die beoordelaars het baie goeie terugvoer gegee rakende die animasiestyl, karakterontwerp en die komposisie van die tonele, en wil glo graag ’n vollengte fliek in dieselfde styl sien.
“As jong filmmaker voel ek geweldig trots dat soveel feeste my film raaksien. Dit is geweldig moeilik om iets vars en nuuts te skep in ons digitale era, so dit is maar altyd ’n oë-toeknyp-en-hoop-vir-die-beste-gevoel wanneer jy jou film die wêreld instuur.”
Ruby & Roach was ’n gekontrakteerde projek. Erentia het saam met die skrywer van die storie, Dorette Nel, ’n draaiboek-skryfkursus bygewoon.
“Deur verskeie ander kontakte het sy uitgevind ek doen animasie en sy het my genader om ’n voorlegging te doen. Gelukkig het sy van my voorlegging gehou en het besluit om my te vertrou met haar fliek, al het ek baie min krediete as regisseur en animeerder agter my naam gehad.”
Erentia was dus die regisseur en animasiekunstenaar van die fliek.
Voor Ruby & Roach het sy reeds drie ander animasieprojekte gedoen. Al drie was poësiefilms, dus was dit vir haar ’n groot uitdaging om dié keer ’n narratief te animeer.
“Met poësiefilms kan mens baie meer abstrak te werk gaan met die beelde wat jy gebruik en ook hoe die verskillende skote op mekaar volg. Met ’n narratief moet ’n mens baie mooi beplan aan die verskillende tonele sodat jou gehoor die storie kan volg. Om dinge nog bietjie meer ingewikkeld te maak, was daar ook nie dialoog in die film nie, so alle emosie, reaksie en gebeure moes met die visuele aspekte en die klank en musiek gekommunikeer word.”
Die fliek is op ’n multiplane downshooter geskiet en met papieruitknipsels geanimeer.
“Die multiplane downshooter is basies ’n groot tafel met klomp glasblaaie bo-op mekaar met die kamera wat van bo af skiet. Die cut-outs word hierop uitgepak. Die verskillende lae glas skep die illusie van diepte as mens dan die foto’s van bo af neem,” verduidelik Erentia die proses.
Gaan kyk gerus op hul Instagram by @rubyandroachmovie of Facebook-blad, Ruby & Roach, na die agter-die-skerms foto’s en video’s van die animasieproses. Sy het twee jaar lank aan die projek gewerk.
DIE STORIE
Die fliek handel oor twee speelgoeditems wat in ’n lughawe se belastingvrye winkel op die rak sit en nooit gekoop word nie.
Ruby, ’n rooi olifant, het ’n lelike vuil kol op haar oor. Roach, ’n pers kakkerlak, is nogal vreemd en grillerig.
“Hulle leef in ’n monochrome wêreld waar alles generies is. Individualiteit is nie iets om op trots te wees nie; dit is beter om net met die massas saam te smelt. Dié twee staan natuurlik uit soos ’n seer oog. Al wat hulle ken, is verwerping,” vertel Erentia.
Die onderwerp lê haar na aan die hart.
“Die meeste mense het al iewers in hul lewe beleef hoe dit voel om as buitestander bestempel te word. Om nie gekies te word nie weens iemand anders se standaard waaraan jy kwansuis nie voldoen nie.
“Ons leef in ’n samelewing wat gedryf word deur modes en vooropgestelde idees wat slaafs nagevolg word. Diegene wat nie dié idees uitdaag nie, word randfigure wat nooit inpas of deel van die crowd is nie.
“Die wêreld het natuurlik al baie verander en is meer ontvanklik vir die weird klomp onder ons, maar ook net op sekere vlakke. Ek is telkens geskok oor hoe verstok soveel mense nog is en hoe maklik ons mekaar oordeel en uitwerk,” het sy vroeër vanjaar in ’n onderhoud met LitNet se Voertaal gesê.
Erentia is opgewonde oor die twee projekte waarmee sy tans besig is.
“Ek is besig met die preproduksiefase van my eie kortfilm, The Stonemason, en nog ’n gekontrakteerde kortfilmprojek waarmee ek in Januarie sal begin.”
Volg haar gerus op Instagram by @erentiabedeker vir ’n kykie agter die skerms van The Stonemason se produksiereis.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie