‘Kuns ís menslikheid’

Lloyd Zandberg
Lloyd Zandberg

Die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) bied vir die 10de keer die Kollege van die Kunste (Cota) se New Beginnings-uitstalling aan.

Die uitstalling verteenwoordig Cota-afgestudeerdes van die afgelope 10 jaar se werk, asook dié van studente wat onlangs hul diploma in Visuele Kunste en Modeontwerp verwerf het.

Die oudstudente se gewilde en skeppende werk gee die publiek die geleentheid om die werk van nuwe Namibiese kunstenaars te waardeer.

Die doel van New Beginnings is om 'n platform vir jong visuele kunstenaars aan die begin van hul loopbane staan te bied om blootstelling te kry.

Cota bied erkende diplomas aan en studente word aan 'n verskeidenheid materiale en mediums oor 'n wye verskeidenheid vakke blootgestel, wat tradisionele kunstegnieke, asook die verkenning van huidige kwessies en temas insluit.

In die eerste twee jaar van onderrig voltooi studente 'n reeks werkwinkels wat ontwerp is om hul kennis en vaardighede op hierdie gebiede te bevorder, terwyl studente in hul derde jaar aangemoedig word om 'n kontemporêre navorsingstema te kies en 'n werkstuk te skep wat hierdie tema ondersoek.

Twee oud- Cota-studente het hul eie klein kunssentrums op die been gebring – een in Havana, een van Windhoek se informele nedersettings, en die ander op Okahao in die Noorde.

Cota aanvaar ook studente uit hierdie twee sentrums.

Kollig het met Nicky Marais, hoof van die Departement Visuele Kunste en Modeontwerp by Cota, oor vanjaar se uitstalling gesels. Marais is al vir die afgelope 11 jaar by Cota betrokke.

“Die uitstalling is gesamentlik deur die NAGN en Cota gefasiliteer en dit het ongeveer vier dae geneem om al die werke op te stel. Vanjaar se uitstalling bestaan uit die werke van 23 kunstenaars, en elkeen kon doen wat hy/sy wou. Ons het gewoonlik geen tema vir hierdie uitstalling nie.”

Wat vanjaar se uitstallings besonders maak, is dat dit in die NAGN se hoofgalery plaasvind.

“Ons beskou dit as erkenning van die besondere bydrae wat Cota deur sulke wonderlike kunstenaars tot die kunste lewer,” het Marais gesê.

Cota ervaar gereeld finansiële uitdagings.

“Cota ervaar ’n voortdurende krisis in terme van finansiering en om mense op te lei om kunstenaars te word. In terme van tyd, ateljeeruimte, fasiliteite en materiaal is dit geweldig duur. Ons studente kom nie uit gesinne met baie hulpbronne nie. Ons kan uiteraard nie vir hulle meer as die klasfooie vra nie.”

Marais sê kuns is ’n basiese menslike aktiwiteit.

“Ons is al duisende jare besig om kuns te maak. Trouens, van die oudste rotskuns ter wêreld in die suide van Namibië is 27 000 jaar oud. Kuns vorm ons lewens elke dag op baie maniere. Mense is ongelooflik innoverend en kreatief.

“Kuns en menslikheid is verbind. Ek dink ook die mensdom staar tans groot uitdagings in die gesig, en die manier waarop ons sal aanpas, is om die probleme op skeppende wyse te bowe te kom en te verander.”

Marais sê kunstenaars los daagliks ‘n probleem op skeppende wyse op.

New Beginnings is tot 9 Maart by die NAGN te sien.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!