Kunsmatige intelligensie teen borskanker ingespan

’n Diagnose kan binne sekondes verskaf word en verminder die emosionele wagtydperk vir ’n pasiënt om haar uitslae te ontvang.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – In Namibië en die res van Afrika plaas beperkte hospitale en klinieke in veral verafgeleë gebiede waar pasiënte dikwels ver moet reis om by ’n dokter uit te kom, dikwels ’n reusagtige demper op veral diagnostiese dienste.

Die nuwe breinkind van ’n Suid-Afrikaanse vrou bied egter nou hoop om juis dié struikelblokke te oorkom en ’n diagnose vir borskanker eerder vroeër as later aan vroue te verskaf.

Kathryn Malherbe se MedAI Sol kombineer deep machine learning (DML) met kunsmatige intelligensie (AI)-sagteware om borskanker te identifiseer.

Kathryn, met ’n graad in neuro-anatomie en ’n meestersgraad in radio- en mammografie, wou verstaan waarom borskankers met tye tydens ultraklank-skanderings misgekyk word.

In ’n neutedop word van pasgemaakte neurale netwerke gebruik gemaak om kankeragtige borsweefsel te identifiseer, is hoe Anneri Müller van MedSol dié baanbrekerstoepassing verduidelik, wat in die toekoms buiten in Suid-Afrika ook na ander Afrikalande uitgebrei gaan word.

Volgens haar skop die Deep Machine Model (DML) lukraak af met geïnisialiseerde parameters, waarna dit duisende beelde van borsweefsel gevoer word.

“Só word die model doeltreffend ‘opgelei’ om die verband tussen nie-kwaadaardige en kwaadaardige ultraklanke te herken,” verduidelik Anneri.

Dis belangrik om te weet is dat dié beelde reeds korrek as nie-kwaadaardig of kwaadaardig deur mediese beroepslui geïdentifiseer is.

Volgens haar sal die DML-model “al hoe meer akkuraat” word, omdat dit “opgelei” word om mettertyd beelde reg te klassifiseer.

Sy verduidelik die opleidingsproses soos volg: ’n jong kind sien ’n stoel vir die eerste keer en herken nie die onderwerp nie. Nadat sy met die verloop van tyd tientalle en later honderde of duisende verskillende tipe stoele gesien het, het sy ’n kennisbasis opgebou van die komponente waaruit ’n stoel bestaan. Wanneer die kind ’n stoel sien wat sy nog nooit vantevore gesien het nie, kan sy die stoel steeds met ’n hoë akkuraatheid as ’n stoel klassifiseer.

“Dieselfde konsep geld vir die DML-masjien, net op ’n veel groter en versnelde skaal.”

Volgens Anneri sal dieselfde proses wat ’n radioloog 20 jaar sou neem om kankeragtige borsweefsels te identifiseer, nou deur MedSol se kunsmatige intelligensie en met die hulp van ’n stel gespesialiseerde AI-vaardighede en vermoëns van sagteware geleer word.

Medsol se DML-platform het reeds ’n vlak van volwassenheid bereik wat tot die program se huidige akkuraatheidskoers van 94,6% ontwikkel is.

“Dis ’n syfer waarop ons baie trots is en wat met verloop van tyd en verhoogde gebruik net verder sal verbeter, wanneer ons amptelike mobiele toepassing vroeg aanstaande jaar bekendgestel word.”

SNY WAGPERIODES UIT

Volgens Anneri is kunsmatige intelligensie en Deep Machine Learning reeds die afgelope 30 jaar deel van die mediese bedryf.

“Wat onlangs duidelik geword het, is dat die werkslading en lang ure wat in die mediese bedryf vereis word, baie druk op beeldsentrums plaas. Nog ’n uitdaging spesifiek tot Suid-Afrika en die res van die Afrika-vasteland, is ons beperkte hospitale met min spesialiste en diagnostiese hulpmiddels wat op elke perseel beskikbaar is.”

Anneri verduidelik die maatskappy se platform is soos om ’n “dokter-in-’n-boks” in veral landelike gebiede te hê waar pasiënte dadelik sal kan bepaal of hulle chirurgiese ingryping deur ’n spesialis nodig het. Tans is dié wagperiode sowat ses maande vanaf die aanvanklike diagnose.

“Ons oplossing verskaf binne sekondes die diagnose en verminder die emosionele wagtydperk vir ’n pasiënt om haar uitslae en ook moontlike uitkomste te ontvang.”

Omdat die innoverende tegniek juis met landelike gebiede as oogmerk ontwikkel is, sê Anneri die maatskappy kon daarin slaag om ’n platform te verskaf teen net ’n fraksie van die koste wat hulle in tradisionele omstandighede sou betaal.

Volgens haar het Suid-Afrika ook ’n baie unieke kulturele ekosisteem en is stigma volop wat borskanker omhul. Laasgenoemde was veral duidelik uit Kathryn se werksaamhede met haar nie-winsgewende organisasie Breast Cancer Support Pretoria die afgelope ses jaar.

Haar ervaring was dat vroue wat met borskanker gediagnoseer is, dikwels weens ’n gebrek aan onderrig en begrip hoe Westerse medisyne werk, deur hul nedersettings verwerp word.

“Ons wil ons platform gebruik as ’n onderrigmiddel om die stigma van borskanker in landelike gemeenskappe in ons land en ook vasteland af te breek.”

Met verwysing na die infrastruktuur wat nodig is, sê Anneri: “Dis juis die opwindende deel!”

“Ons platform is ontwerp om naatloos te integreer met ’n koordlose ultraklank-peilstif (probe) wat ingeboude WiFi het. Dit stel ons in staat om ’n dokter, tegnikus of verpleegster op te lei hoe om binne ’n paar uur ’n borsmassa reg te skandeer.”

Binne sekondes verskaf die platform ’n patologiese en radiologie-verslag teen 65% minder as die huidige markkoste wat hiervoor vereis word. Al wat nodig is, is ’n tablet, die MedSol-toepassing, ’n draadlose peilstif (of ultraklankmasjien indien dit reeds beskikbaar is), sowel as ’n kort opleidingskursus vir die individu wat die borsskandering doen.

Medsol span ook die ervaring en getuienis van oudpasiënte wat borskanker oorwin het, as ambassadeurs in om onderrig oor borsgesondheid te verhoog.

“Die beste manier om vroue oor borskanker in te lig, is om plaaslike ambassadeurs op te lei om met pasiënte in hul eie kulturele konteks en taal te praat.”

Die maatskappy bemagtig ook dié ambassadeurs deur middel van ’n aansporing vir vrywilligers om werkskepping in die buurland te bevorder. Deur middel van die nie-regeringsorganisasie het Kathryn 20 jongmense en 125 vroue in verafgeleë gebiede in diens geneem en reeds as meer as 179 000 individue op die aanlynplatform opgelei.

Anneri verduidelik dié platform (www.breastcancersupport.co.za) verskaf inligting om vroue in te lig oor wat om volgende te doen nadat hulle ’n diagnose ontvang het; kontakbesonderhede word gedeel oor hul naaste ondersteuningsgroep en ’n ruimte word geskep vir individue om as vrywilligers te help op welke manier ook al om die boodskap verder uit te dra.

Medsol het groot planne om haar voetspoor verder oor die vasteland en ook na ander kontinente uit te brei die oomblik wat die nuwe mobiele toepassing vroeg aanstaande jaar bekendgestel word, sê Anneri.

“Die behoefte vir beter onderrig, ondersteuning en slim sagteware is oral. Ons glo werklik in ons visie en kan nie wag om die Afrika-vasteland storm te loop nie. Volgende verower ons die wêreld!” – [email protected]; www.medsol.ai; www.can.org.na

BORSKANKER SE KURWES

Borskanker is die kankertipe wat die meeste in Namibië voorkom, met gemiddeld 540 gevalle wat jaarliks gediagnoseer word.

2010301

2011257

2012335

2013315

2014558

2015547

2016540

2017535

* Jaarlikse statistiek soos verskaf deur die Kankervereniging van Namibië (CAN)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!