Kunsroete op Omaruru vat vlam!

Lloyd Zandberg
Lloyd Zandberg



Die afgelope naweek was die Omaruru Kunsroete vir 'n 11de keer vuur en vlam - byna letterlik. Met die kwik wat tot net onder 40 grade gestyg het, het kunstenaars en feesgangers gretig na yskoue verversings gegryp om af te koel. Die hitte kon egter nie die feesgees demp nie.

Die gewilde Kunsroete lok jaarliks hordes mense van dwarsoor die land, en selfs van ons buurland, Suid-Afrika. Vanjaar se fees het, soos altyd, beslis nie teleurgestel nie.

Met topgehalte vermaak, talle kunsuitstallings, kos, toneelspel en ander lekkertes was dit weer eens 'n ontploffing op die Namibiese feeskalender.

Tydens die fees is net die beste Namibiese kuns aan die publiek gebied. Anders as vorige jare was die langtafel, wat in die hoofstraat opgerig is, 'n eerste. Feesgangers kon gedurende die openingsaand om die tafel gesels, nuwe mense ontmoet en aan watertandlekker disse smul.

Alle vertonings op die feesprogram was teen Vrydag reeds uitverkoop - nóg 'n eerste vir die Kunsroete.

Bekende name het die drie dae lange fees met fantastiese vermaak ingekleur. Elzabé Zietsman se Dis koue kos, skat was uiters gewild en die gehoor was gaande daaroor. Namibiërs wat dié verhoogstuk misgeloop het, kan dit op 27 en 28 September by die Warehouse-teater geniet.

Saterdagaand was Sanet Prinsloo agter die potte om aandete vir meer as 300 gaste te berei terwyl Valiant Swart, Dana Snyman, Chris Bakkes en Johan Badenhorst musiek maak en stories vertel.

Indien jy nie vanjaar se Kunsroete kon bywoon nie, moet dit nie volgende jaar misloop nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!