Kunstenaar ontpop in 'n ervare seevaarder

'n Buchter in murg en been het saam met haar lewensmaat vir sewe jaar lank 'n wêreldwye seiljagvaart onderneem en die geleentheid gehad om eksotiese plekke te verken.
Tanja Bause
Tanja Bause



Me. Sophia Pieters, 'n boorling van Lüderitz, het gehelp om die bekende Felsenkirche op die dorp se loodglasvensters te herstel voordat sy en haar lewensmaat op 'n seilboot die wêreld ingevaar het.

Sophia is op Upington gebore. Haar pa was 'n Suid-Afrikaner en haar ma 'n boorling van Lüderitz.

“Ek het op tweejarige ouderdom saam met my familie Lüderitz toe getrek en hier grootgeword en skoolgegaan.”

Sy het in die hotel en restaurant op die dorp gewerk toe sy vir Herman Dirks ontmoet het.

“Hy was van Duitsland en het loodglasvensters gerestoureer en gemaak. Hy het gevra of ek sal belang stel dat hy my meer leer en dan vir hom te werk. Ek het baie belang gestel en hy het my onmiddellik begin leer.”

Hul eerste opdrag was om die vensters van die Felsenkirche te restoureer.

“Die Felsenkirche se vensters was redelik maklik. Ons moes net hier en daar 'n stukkie gebreekte glas vervang. Ons het baie van die lood tussen die verskillende glase vervang; dit het ons twee jaar geneem om die werk te voltooi. Maar dit was nie net die vensters wat opgeknap is nie; Bill Parker het die dakskilderye gerestoureer en dit het lank gevat.”

Hulle is in 1993 opdrag gegee om die gewone glasventers van die Lutherse Kerk met loodglasvensters te vervang.

“Die gewone vensters is stukkend gegooi en ons is genader om hulle te vervang. Dit was die eerste keer dat ek 'n hele venster self ontwerp en gemaak het. Ek het die kleure gekies en gemeng; ek het die glas stukkies in die oond gebrand; hulle bymekaargesit en die lood tussenin gesit om hulle bymekaar te hou.”

Hulle het nege vensters in ses maande ontwerp en gemaak. Tussenin het Sophia items soos lampskerms en familiewapens vir die winkel gemaak wat daar verkoop is.

Hulle het ook die vensters van die Katolieke Katedraal in Windhoek gerestoureer en begin om nuwe vensters vir die Missionary Benedictine Sisters of Tutzing Immaculata Monastery in Brakwater te ontwerp.

“Ek het aan die vensters gewerk tot hulle so halfpad klaar was, toe klim ek op 'n seilboot saam met Ian, my kêrel, en vaar uit Lüderitz se hawe op pad na Brittanje waar ons vir die volgende twee jaar gebly het.”

Sophia het vir tien jaar lank met loodglaskuns gewerk.



AAN DIE STUUR

“My kêrel het 'n seilboot gekoop en ons het altyd in en om Lüderitz geseil. Ek het ook geleer om te seil en wanneer ons gaan seil het, het ons beurte gemaak om die boot te stuur.

“Ek onthou nog so goed toe ons vanaf St. Helena-eiland na Skotland op pad was en die enjin opgepak het. Ian wou omdraai en terug Lüderitz toe seil, maar ek het my teëgesit en gesê ek het reeds vir almal vertel ek gaan Skotland toe. Hoe gaan dit nou lyk as ek nou al terugkom? Ek het vir Ian gesê mens gebruik nie die enjin nie en ons het 'n kragopwekker vir die ligte. Ons het tot in Skotland geseil.”

Skotland se tuine was vir haar die mooiste in die sewe jaar wat sy en Ian die wêreld vol geseil het.

“Hulle is so groen, goed versorg en mooi uitgelê, maar Brasilië was ook wonderlik. Ek het tot bo-op die standbeeld van Christus die Verlosser geklim en op die bekende Ipanema-strand gaan lê.”

Vir Sophia was die windstil dae die moeilikstes, omdat hulle sonder wind nie kon beweeg nie en dus hulle bestemming baie later eers sou bereik.

“As jy so lank op 'n seilboot is, raak jy moeg vir blikkieskos en ons Namibiërs soek mos vleis. Vars vis het ons baie gevang, maar dit raak ook later te veel. As ek vir my vier ure aan diens was en Ian geslaap het, het ek die lyne ingekatrol. Wanneer ek hom hoor beweeg het, het ek vinnig die lyne weer in die see gegooi sodat dit lyk asof hulle die hele tyd daar was en die vis net nie gebyt het nie.”

Dit was nadat hulle by die Royal Yacht Club in Kaapstad aangedoen het – ná hulle vanaf Brasilië gevaar het – dat Sophia besef het sy was die enigste swart vrou in die klub en seker ook een van die enigstes wat 'n seilboot kon stuur.

“Die mense het nie geglo dat ek kan seil nie en het my vrae oor Brasilië gevra wat ek natuurlik kon beantwoord. Dit was toe eers dat hulle my geglo het dat ek wel in Brasilië was en 'n seilboot kan stuur.”

Sophia sê van die beste oomblikke op die boot was die dae wanneer dit gereën het.

“As ons gesien het dit reën, het ons van koers verander en soontoe geseil. Ons het solank die seep gesmeer en wanneer ons in die reën inseil, het ons 'n lekker varswaterstort gevat. Dit was heerlik, want ons kon nie elke dag op die boot stort nie aangesien die vars water op die boot vir drink en kook was.”

Vandag pas Sophia drie kinders op en sien sy uit om binne twee jaar – wanneer sy 60 word – af te tree.

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!