Kunstenaar verewig perdeliefde in klei

'n Jong Swakopmunder laat nie toe dat die inperking haar onderkry nie, maar het die tyd gebruik om iets besonders te skep.
Elvira Hattingh
Sy bied gratis kunsvlytklasse vir die oumas en oupas van die kus se Lions-ouetehuis aan, terwyl haar talent met beeldhouwerk mense die afgelope weke op sosiale media gaande gehad het.

Tussendeur doen sy ook haar bes om kuns plaaslik te bevorder.

Suzaan van der Ryst sê die perdekopbeelde, waarvan sy foto's op haar Facebook-blad “Suzaan van der Ryst – Art” geplaas het, is haar eerste probeerslag met beeldhouwerk.

“My eerste beeld het ek met kombuismesse, 'n teelepel, tandestokkies en haarknippies geskep, want ek het geen gereedskap nie,” vertel Suzaan.

Haar tweede beeld is dié van 'n pronkende arabierperd, terwyl die derde geïnspireer is deur 'n foto van 'n Suid-Afrikaanse arabierhings.

“Behalwe vir hul vorm, probeer ek ook hul temperament in die beeld vasvang – die persoonlikheid,” sê sy. Sy het ook 'n beeld van 'n Percheron-perd, of 'n sogenaamde trekperd, gemaak.



INPERKING

Dit het eintlik alles by die inperking begin, vertel Suzaan.

“Ek het laasjaar vir my 20 kg klei in Suid-Afrika gekoop en met 'n groot gespook in Namibië gekry. Ek het myself egter verbied om daarmee te speel totdat my kunsuitstalling by Die Muschel verby is. Ek weet as ek begin, sal ek nie ophou nie.

“Weens die inperking en uit verveeldheid, het ek egter die klei nader getrek en gekyk wat ek kan doen.

“Beeldhouwerk was vir my verbasend maklik en kom eintlik natuurlik. Ek het met perde begin omdat ek hul anatomie baie goed ken, maar ek wil eindelik ook uitbrei na wild toe.

“In hierdie stadium kan ek nog nie die beelde verkoop nie. Ek moet eers 'n gietvorm van die kleibeelde maak en dit giet. Ek sal op my Facebook-blad laat weet wanneer die beelde gereed is om te verkoop.”



BEJAARDES

Oor haar kunsvlytklasse vir die bejaardes van die Lions-ouetehuis vertel sy: “Ek het verlede jaar saam met die NG Kerk se jeug by hulle gaan kuier.

“Daar het 'n ou tannie my hande vasgehou en gevra ek moet asseblief vir haar kom kuier. Ek het sommer die volgende dag twee melkterte gekoop en vir haar gaan kuier.

“Toe het ek besef daar is baie mense wat behoefte aan geselskap het, wie se kinders dalk ver is. Ek het met die bestuur gesels en ek bied nou elke Donderdag vir hul kunsvlytklasse aan.

“Tans mis ek hulle vreeslik, want tydens die inperking mag ek hulle nie sien nie. Dit is die hoogtepunt van my week.

“Ek het gedink ek gaan soontoe met die idee dat ek hul harte gaan aanraak, maar dit was andersom. Hulle het my hart aangeraak,” sê Suzaan.

Sy sê die kunsvlytklasse ontvang dikwels skenkings vir kunsmateriaal, wat help om dit aan die gang te hou.

Suzaan het in Februarie skilderklasse vir volwassenes op Swakopmund begin aanbied, terwyl sy een maal 'n maand 'n verf-en-wyn-aand aanbied.

“Dit is baie gesellig en prettig. Jy het geen kunsagtergrond hiervoor nodig nie en neem jou skildery saam met jou huis toe.”

Belangstellendes kan haar Facebook-blad genaamd “Suzaan van der Ryst – Art” opsoek.

Ek probeer een keer per jaar 'n kunstenaar uit Suid-Afrika nooi om 'n plaaslike werkwinkel aan te bied. Daar is heelwat wat ek doen om kuns in Namibië te probeer bevorder,” sê Suzaan.



AGTERGROND

Suzaan is op Mariental gebore, maar haar ouers het kort daarna na Suid-Afrika verhuis waar hulle naby Delmas, naby Pretoria, gaan boer het. In 2017 het hulle almal egter besluit om terug te keer Namibië toe.

“Eers het my ouma-hulle teruggekom, toe my ma-hulle en nou is ons ook eindelik hier. Dit was 'n aanpassing, maar dit is wonderlik om hier te bly,” sê sy.

Suzaan het aanvanklik perdestudies geneem, maar sê sy het tussendeur besef dat sy dan nie meer soveel aandag aan haar eie perde kon gee nadat sy heeldag met ander mense se perde besig was nie.

Toe hulle Namibië toe trek, het sy op haar kuns begin fokus.

“Dit is vir my wonderlik, want ek is by die huis by my kinders. Ek kan 'n mamma wees en iets ekstra doen vir inkomste, terwyl ek my kreatiwiteit uitleef,” sê Suzaan.



OPLEIDING

Ongeag haar besondere talent, het sy nie formele kunsopleiding gehad nie.

“Ek het 'n paar maande lank skilderverfklasse in olieverf by Lucas de Wit geneem. Hy het ons van die ou meesterstegnieke geleer.

“Dit het my baie gehelp met 'n agtergrond van hoe om die verf te gebruik en wat om by te meng.”

Sy het reeds twee jaar by die Omaruru-kunsroete uitgestal, waarna sy genooi is om in Desember 2019 by Die Muschel op Swakopmund uit te stal.

“Dit was my eerste solo-uitstalling en dit het baie goed gegaan. Dit was lekker en ek kon 'n paar goedjies verkoop, alhoewel die kunsmark tans baie swak is,” sê Suzaan.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!