Kunstenaars hou kwarantynkonserte

Plaaslike musikante vertel hoe hulle moet vernuwe om nie tydens Covid-inperkings ten gronde te gaan nie.
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis



In die lig van die Covid-19-pandemie sukkel plaaslike kunstenaars tans om kop bo water te hou.

Aangesien byeenkomste van meer as 50 mense taboe is, moet dié gemeen­skap met vernuwende idees vorendag kom om die pot aan die kook te hou.

Hier volg hul insette oor die huidige uitdaging:



The Ell's, Slickartie

“Ons verdien ons brood deur ons optredes, so dis baie moeilik op die oomblik. Tot dusver het ek al 'n paar aanlyn optredes gedoen, aangesien die meeste van my aanhangers reeds in self-isolasie is en beslis 'n bietjie bemoediging en vermaak nodig het.”

Slickartie sê Instagram-, Facebook live en Twitter live was tot dusver handige kommunikasiekanale tussen hom en sy aanhangers, en sy gehoor word daagliks groter.

“Dit is wonderlik om steeds veilige vermaak te kan verskaf!” sê hy.

Hy wil medekunstenaars aanmoedig om die tyd te gebruik om vrye teuels aan hul skeppende vermoëns te gee.

“Moeilike tye kom iewers tot 'n einde. Kom ons onthou in tye soos dié dat ons mekaar nodig het. Kom ons help mekaar en moedig ons aanhangers aan om veilig te wees.”



Small Town Tramp

PD Stoman, beter bekend as Small Town Tramp, sê “alles hang nou in die lug”. Te midde die onsekerheid oor wanneer inperkings opgehef word, is daar volgens hom min geleentheid vir optredes.

“Gigs is gekanselleer, niemand weet tot wanneer nie. Ons is wel besig om te werk aan materiaal wat ons kort voor die uitbreking opgeneem het. Ek skryf intussen aan nuwe mate­riaal, so ons bly besig.

“Namibiërs moet veilig speel, dan sal hierdie ding vroeër oorwaai. Was jou hande, bly weg van mense af en moenie al die toiletpapier koop nie. Dis nie 'n maagvirus nie.”

Savannah Collins

Die alombekende Savannah Collins sê afgesien van gekanselleerde ­optredes is die opname van haar nuwe enkelsnit uitgestel. So ook die ­bekendstelling van haar nuwe ­musiekvideo en ­verskeie onderhoude.

“Dit is 'n moeilike tyd vir musikante, maar ook vir die wêreld. Ek gaan die beste maak van die tyd wat ek gegun word.”

Sy beplan om aan nuwe materiaal te werk, nuwe musiekvaardighede aan te leer, en gesond te bly.

“Dit is tyd vir introspeksie. Ek gaan beslis aktief op sosiale media bly en dié platform gebruik om my ­volgelinge positief te probeer hou. Ek wil akoestiese shows in die sosiale media doen, wat die musiek lewend hou vir die eensame tye wat voorlê.”

Haar boodskap aan aanhangers is: “Versprei liefde, nie vrees nie.”



Michael Pulse

Michael Pulse, plaaslike R&B-sanger, sê hy kry die wind van voor én agter, aangesien hy ook in die fliekbedryf werksaam is.

“Die bekendstelling van die fliek The White Line, wat ek geskryf en vervaardig het, is gekanselleer. Dit was maar net die begin. Daarná was dit net afdraande. My shows oraloor die land moes gekanselleer word, wat dit baie moeilik vir my maak om enige ­inkomste te verdien.”

Michael sê hy gaan van die huis af werk en aanhou skep. Hy wil self­ondersoek doen en met 'n kritiese oog na die huidige stand van die nasie kyk, sê hy.

“Ek wil musiek maak wat mense uit verskillende agtergronde bymekaarbring.”

Ook hy sal sosiale media aanwend om met sy gehoor in verbinding te bly.

Michael doen 'n beroep op sy aanhangers om hul sosiale afstand te hou, om na kwesbares om te sien en nie fopnuus te versprei nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!