Kus boikot sirkus
Kus boikot sirkus

Kus boikot sirkus

'n Namibiese diereregte-organisasie het in 'n sterk bewoorde brief die owerheid versoek om 'n sirkus die land te verbied.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die ministerie van die omgewing en toerisme het bevestig geen aansoeke vir permitte vir die McLaren-sirkus se diere is tot dusver ontvang nie.

"Enigiemand wat lewende diere in die land wil inbring, benodig 'n invoer- en uitvoerpermit van die land van oorsprong. Namibië het 'n moratorium op die invoer van lewende diere, dus moet dit versigtig met die bestaande wette en beleide oorweeg word," het die woordvoerder van die ministerie, mnr. Romeo Muyunda, gister aan Republikein gesê.

"Sommige van hierdie diere is ook onderhewig aan regulasies van die Konvensie vir die Handel in Bedreigde Spesies (Cites)."

Die wilde diere in die sirkus is onder meer Bengaalse tiere, wit Bengaalse tiere, leeus, wit leeus, krokodille, kamele en luislange.

Intussen het die McLaren-sirkus op hul Facebook-blad hul Namibiese reisprogram vir Junie bekend gemaak, maar aangekondig dat hulle nie meer by die kus gaan optree nie.

"Weens die oorweldigende, negatiewe kommentaar en terugvoering van individue van die kus, het ons ons venue verloor en kon ons nie een verseker nie, weens die dreigemente van protes en boikotte. Ons vra verskoning aan mense wat hierdeur geraak is, maar dit is buite ons beheer," lui die Facebook-inskrywing.

Volgens die program sal die sirkus in Keetmanshoop, Mariental, Otjiwarongo, Tsumeb en Windhoek optree.

DIEREREGTE-ORGANISASIE

Intussen het 'n diereregte-organisasie, Namibian Advocates for the Banning of Animal Circuses in Namibia, 'n sterk bewoorde brief aan die minister en uitvoerende direkteur van die omgewing en toerisme, asook parlementslede geskryf om nie die sirkus in Namibië toe te laat nie.

"Plaas Namibië asseblief op die wêreldkaart om die eerste Afrikaland te wees wat dieresirkusse verbied. Laat Namibië die leier in Afrika op hierdie belangrike gebied wees," skryf die organisasie.

Volgens die organisasie het 53 lande reeds dieresirkusse verbied en baie sirkusse het vrywillig hul diere vrygelaat nadat hulle die nutteloosheid daarvan erken het om hulle vir monetêre wins te behou.

"Die wrede praktyk om diere te martel vir menslike vermaak gaan voort, veral in Afrika. Waarom is Afrikalande die laaste om die waarheid te besef en dienooreenkomstig op te tree?" vra die organisasie.

"Laat ons trots Namibies en die leier in Afrika wees, en 'n verbod op die marteling en onmenslike behandeling van ons kosbare wild plaas," pleit die organisasie.

"Die potensiële negatiewe impak op ons suksesvolle toerismebedryf moet ook in ag geneem word as wilde diere wat in sirkusse gebruik word, in Namibië toegelaat word.

“As die McLaren- en alle ander sirkusse die land verbied word, sal dit ‘n groot advertensie vir die Namibiese toerismebedryf in eerstewêreldlande wees, veral Europa en Amerika.”

Die organisasie sê sirkusse, soos Cirque de Soleil, kan suksesvol wees sonder optredes deur diere.

Hulle meen:

- Sirkusse is 'n inherente wrede en beledigende bedryf;

- Geen dier, des te meer wilde diere, moet vir geld misbruik word deur gedwing te word om truuks met die gebruik van swepe, kettings en toue uit te voer nie;

- Geen dier mag vir die grootste deel van sy lewe in 'n hok bly nie;

- Geen dier moet dag vir dag duisende kilometer ver in alle weersomstandighede reis om vir geld misbruik te word nie - dit is wreed;

- Diere in sirkusse het nie opvoedkundige waarde nie; dit is blatante uitbuiting;

- Diere in sirkusse leer mense - veral die jeug - presies hoe wilde diere nie behandel moet word en hulle nie moet lewe nie;

- Dit is nie opvoedkundig nie, dit is marteling.

"As 'n dier vir enige rede nie weer in die wildernis vrygelaat kan word nie, moet dit na 'n veilige hawe gestuur word, nie na 'n sirkus nie," sê die organisasie.

By die brief is koerantartikels aangeheg wat onder meer berig oor 'n krokodil van McLaren-sirkus wat verdwyn het, en 'n skermgreep van rassistiese Facebook-kommentaar van die sirkus se ringmeester, mnr. Duncan McLaren.

Republikein het navrae aan Yin Yang Investments gerig wat die Namibiese toer in samewerking met McLaren-sirkus aanbied, maar teen druktyd is geen kommentaar gelewer nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!