Kushner onder vier ou00eb oor Russiese kontakte
Kushner onder vier ou00eb oor Russiese kontakte

Kushner onder vier oë oor Russiese kontakte

Die Amerikaanse kongres sal hierdie week eerstehands van pres. Donald Trump se skoonseun, Jared Kushner, hoor oor kontak met Russiese verteenwoordigers.
NAMPA
Pres. Donald Trump se skoonseun, Jared Kushner, staar vandeesweek twee dae van ondervraging agter geslote deure deur die Amerikaanse kongres in die gesig. Wetgewers wil vasstel of die Trump-verkiesingsveldtog Rusland se hulp gevra het in die wedloop na die Withuis in verlede jaar se verkiesing.

Kushner, 'n senior Withuis raadgewer, sal vrae oor sy kontak met Russiese burgers en amptenare moet beantwoord wanneer hy voor die senaat se intelligensiekomitee en die Huis van Verteenwoordigers se intelligensiekomitee getuig.

Trump word bloots gery deur aantygings dat amptenare van sy veldtog met Rusland saamgewerk het.

Amerikaanse intelligensie-agent­skappe beskuldig Rusland van inmenging in verlede jaar se verkiesing.

Moskou ontken inmenging en Trump hou vol dat daar geen same­swering met Rusland was nie.

Trump se seun, Donald Trump jr., het vroeër die maand e-posse bekend gemaak waarin die vooruitsig om negatiewe inligting oor Hillary Clinton te kry, verwelkom word.

Lede van albei komitees is gretig om besonderhede te kry oor die ontmoeting in Junie 2016 tussen 'n Russiese regsgeleerde, Natalia Veselnitskaya, Trump jr., Kushner en die voormalige bestuurder van die Trump-verkiesingsveldtog, Paul Manafort.

Nog 'n paneel van die Kongres, die senaat se justisiekomitee, ­onderhandel met Manafort en Trump jr. oor getuienis tydens 'n ­openbare sitting.

Anthony Scaramucci, Trump se nuwe direkteur van kommunikasie, het Sondag gesê een van sy eerste take sal wees om 'n einde te maak aan inligting wat uit die Withuis gelek word.

Die aanstelling van Scaramucci, 'n Wall Street-finansier, bring 'n aggressiewe styl na die Withuis se mediakantoor.

Die Withuis se mediasekretaris, Sean Spicer, het ná Scaramucci se aanstelling bedank.

Scaramucci is aan die diep kant ingegooi toe inligting uit die Withuis gelek het en in die Washington Post gepubliseer is oor Trump wat presidensiële magte misbruik om familielede en moontlik homself kwyt te skeld van enige kriminele oortredings.

Scaramucci, wat by tye die Demokrate ondersteun het, het 'n deel van die naweek gebruik om van sy ou twiets uit te wis waarin sy standpunte lynreg met Trump s'n verskil. Van hierdie standpunte gaan oor klimaatsverandering. -Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer