Kuvukiland-jaer glo op pad na hospitaal

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die 47-jarige me. Esmeralda Benz van Kuvukiland op Rehoboth was Saterdag na bewering onder die invloed van medikasie en op pad na die hospitaal toe sy die jong Danelle Mouton (11) doodgery het.

Sy beskik glo nie oor ‘n rybewys nie en het na bewering nog nooit voorheen bestuur nie, is Republikein gister meegedeel.

Haar regsverteenwoordiger, mnr. Winnie Christians, het gistermiddag by navraag gesê sy kliënt was tot nou toe nog te emosioneel om behoorlik instruksies aan hom te gee.

Hy het bevestig sy was glo op pad hospitaal toe aangesien sy niemand kon kry om haar te neem nie.

Benz het gister voor landdros Kandinawapa Nangombe in die landdroshof op Rehoboth verskyn nadat sy haarself Sondagmiddag aan die polisie oorgegee het. Sy is op borgtog van N$6 000 vrygelaat.

Benz het Saterdagmiddag na wat verneem word te voet van die ongelukstoneel gevlug.

Benewens ‘n klag van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur en die versuim om hulp op die toneel van die ongeluk te verleen, word sy ook daarvan beskuldig dat sy sonder ‘n rybewys bestuur het.

Danelle se ma, me. Ingrid Mouton, het gister aan Republikein gesê Danelle was saam met ‘n familielid, me. Petronella Koopman, op pad huis toe.

“Sy het Petronella se dogtertjie, Angeline, aan die hand gehad en Petronella het haar seuntjie, Denzel, se handjie vasgehou terwyl hulle van haar huis af na ons huis gestap het.”

Mouton sê die ongeluk het by Burgershoek in Kuvukiland plaasgevind, ‘n ent van waar hulle woon.

Benz het na bewering vinnig gery en in ‘n stadium om ‘n boom geswenk.

Sy sê Danelle het Angeline se hand gelos en probeer wegkom, maar is getref en het onder die voertuig beland. Sy is op die toneel dood verklaar.

Dit is die tweede tragedie wat die familie die afgelope twee jaar tref. Mouton se man, Denville, het op 1 Julie 2017 sy eie lewe geneem.

“Danelle het daarna karate begin doen as deel van haar genesingsproses en het al vier medaljes verower,” het Mouton oor haar dogter se goeie prestasies gesê.

Danelle laat benewens haar ma ook haar twee susters, Olivia en Olivera, agter.

Sy sal op 10 Augustus begrawe word.

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!