Kwarantyn-drama ry lorriedrywers
Kwarantyn-drama ry lorriedrywers

Kwarantyn-drama ry lorriedrywers

'n Storm broei weens teenstrydige weergawes oor die gedrag van twee vragmotorbestuurders wat vanweë hul beweerde verontagsaming van regulasies afgedank is.
Leandrea Louw
Leandrea Louw op Walvisbaai – Die vragmotorbestuurder wat die afgelope naweek positief vir Covid-19 getoets het, sê sy voormalige werkgewer het hom en sy kollega nooit ingelig oor wat die moets en moenies van hul kwarantyn by die maatskappy se depot was nie.

Dr. Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, het Sondag by die Covid-19-kommunikasiesentrum (CCC) in die hoofstad aangekondig dié 47-jarige man is die mees onlangse bevestigde geval van die virus in Namibië.

Die man het volgens Shangula op 8 Mei teruggekeer uit Suid-Afrika.

Hy was by die Wesbank Vragmotordepot in kwarantyn saam met 'n kollega wat op 10 Mei uit Zambië teruggekeer het.

Hul werkgewer, FP du Toit Transport, het hulle verlede Woensdag afgedank nadat hulle glo kwarantynregulasies verontagsaam het.

Tydens 'n besoek van Republikein aan die vragmotordepot Donderdag het die mans dié beweerde verontag­saming ontken.

Al wat aan hulle gekommunikeer is, was in 'n WhatsApp op 8 Mei, voer hulle aan. Dié boodskap lui: “Van vandag stréng wetstoepassing deur Nampol. Beperk inkopies en kontak met ander wanneer brandstof ingetap word. Drywers wat terugkeer, moet by die depot bly/nie huis toe gaan nie. Kontak jul lynbestuurder vir meer inligting.”

“Dít was die enigste kommunikasie wat ons ontvang het. Hulle het eers die regulasies op 14 Mei kom verduidelik,” het een gesê.

Die twee mans sê hulle het op 12 Mei in die omgewing van die nywerheidsgebied gaan draf. “Ons het toe 'n oproep gekry dat gesondheids­amptenare by die depot is en na ons op soek. Ons het teruggehardloop en die gesondheidsinspekteurs het gevra of ons huis toe was na ons gesinne, waarop ons nee geantwoord het. Hulle het na ons huise toe gegaan en met ons naasbestaandes onderhoude gevoer wat bevestig het hulle het ons nie sedert ons terugkeer gesien nie.”

Net die vorige dag het hul nou voormalige werkgewer hulle skriftelik ingelig dat hul Mei-salarisse met 50% besnoei word.

Volgens hulle is hulle aangeraai om dié briewe na hul bank te neem om om finansiële hulp aansoek te doen. “Omdat ons toegelaat is om bank toe te gaan, het ons aanvaar ons mag by die nywerheidgebied gaan draf.”

Die mans is van growwe nalatigheid en verontagsaming van veiligheid- en sekuriteitsreëls aangekla.

“Ons is baie teleurgesteld in die manier hoe hulle ons behandel het. Ons moes ons eie kos koop en het tot N$250 per dag bestee. Die maatskappy het ons niks betaal terwyl ons in kwarantyn was nie. Daar was tye toe ons in bottels moes urineer omdat die badkamers saans deur een van die wagte gesluit word.”



RAADSLID MAAK STEM DIK

Intussen het mnr. Knowledge Ipinge, raadslid vir die Walvisbaai stedelike kiesafdeling, daarop aangedring die perseel van die vervoermaatskappy en die handelsbank, waar die mans was, moet vir eers gesluit word.

Ipinge werp ook lig op ander plekke wat die man wat positief getoets het, besoek het sedert hy Namibië vroeër vandeesmaand binnegekom het.

Dit sluit verskeie vul­stasies, koswinkels, 'n goudmyn en die vragmotordepot in. Hiernaas het hy die kantoorgebou en ablusiegeriewe by Standard Bank op Walvisbaai besoek.

Die man word sedert Donderdag by die staatshospitaal op die hawedorp in isolasie gehou.

Volgens Ipinge is die mans onregmatig ontslaan.

Behalwe dat lede van die publiek die depot besoek het in die tyd toe die mans daar in kwarantyn was, moes hul gesinslede hulle ook van kos voorsien omdat die maatskappy glo nagelaat het om dit te doen.



OPSPORING SKOP AF

Mnr. Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, het bevestig hulle poog tans om almal op te spoor met wie die man in kontak was.

“Dit bly 'n bron van kommer dat die publiek nie die erns van Covid-19 besef nie. Die publiek moet optree op 'n manier wat onsself en ander beskerm.”

Standard Bank sal na verwagting vandag 'n verklaring uitreik.

Die uitvoerende hoof van FP du Toit, mnr. Stephan Terblanche, het by navraag gesê hulle sal ook vandag met 'n verklaring vorendag kom waarin “al die feite gestel word wat uiteensit presies wat gebeur het”.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!