Kwarantyn vir vyftal spelers amper verby
Kwarantyn vir vyftal spelers amper verby

Kwarantyn vir vyftal spelers amper verby

Of hulle gou weer die kans sal kry om rugby in Engeland te gaan speel, is geensins ’n uitgemaakte saak nie.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die vyf Namibiese rugbyspelers wat naby Mariental in kwarantyn verkeer nadat hulle onlangs uit Engeland teruggekeer het, sien uit daarna om môre of op die laatste Donderdagoggend ontslaan te word om met hul families herenig te word.

Die coronavirus-pandemie wat wêreldwyd ’n pad van verwoesting deur alle sportskedules geploeg het, het ook daartoe aanleiding gegee dat die rugbyseisoen in Engeland en Wallis voortydig beëindig is en die vyftal Namibiërs het dus op 25 Maart na hul geboorteland teruggekeer.

Die senter Darryl de la Harpe, flank Prince !Gaoseb, stut André Rademeyer en losskakel Cliven Loubser sou tot aan die einde van die Europese seisoen in Mei by Yorkshire Carnegie gekontrakteer gewees het.

Hul landgenoot Lesley Klim (senter en vleuel) is onlangs deur die Pro14-klub Ospreys op ’n leengrondslag aan Jersey Reds vrygestel, wat net soos Yorkshire in die Engelse kampioenskap (tweede vlak van die professionele spel in die land) meegeding het.

De la Harpe het gister aan die koerant gesê hulle sien uit om indien alles volgens plan verloop, môre uit kwarantyn ontslaan te word om vir die eerste keer sedert hul aankoms in die land twee weke gelede met hul families herenig te word.

Die vier spelers wat by Yorkshire hul eerste proesel beroepsrugby in Europa ondervind het nadat hul gewese Namibiese nasionale afrigter Phil Davies as die direkteur van rugby op hul knoppie gedruk het, se toekoms daar is onseker.

Yorkshire het onderaan die puntelys geëindig en is dus na nasionale liga 1 (die derde vlak) gerelegeer, waar klubbegrotings selfs kleiner is as in die Kampioenskap wat selfs voor die koms van die coronavirus drastiese besnoeiings aangekondig het.

Die terugkerende spelers se ander opsies sodra sake na normaal terugkeer, kan insluit om hulle by die Namibiese Welwitschias-groep aan te sluit wat op provinsiale vlak in Suid-Afrika meeding en onder die nuut aangestelde afrigter Johan Diergaardt moontlik later ook vanjaar die toetsseisoen sal aanpak.
Tydens die nasionale inperking staan sake by die Hage Geingob-stadion egter ook nog doodstil.

Volgens De la Harpe is in die spelers se gesprekke met Davies aangedui dat die klub hulle graag terug sal wil hê sodra die groen lig kom vir rugbybedrywighede om voortgesit te word, maar enige aanbiedinge of besluite hieroor lê tans nog in die duistere toekoms.

Dit is vandeesweek ook aangekondig dat Yorkshire vir die vyfde keer ’n naamsverandering sal ondergaan en voortaan weer soos tevore as Lees bekend sal staan. Die klub se vorige name was: Headingley, Leeds RUFC, Leeds Tykes en Leeds Carnegie.

Phil Davies het in ’n boodskap op die klub se webblad gesê: “Ongelukkig was relegasie onafwendbaar vanweë ons uitslae hierdie seisoen.

“Ek kan net praat oor die tyd sedert die begin van die jaar (toe hy as hoofafrigter en direkteur van rugby aangesluit het). Ek het gesien hoeveel harde werk die spelers ingesteek het. Dit sou wonderlik wees om in die oorblywende tyd ’n wedstryd of twee te wen, maar (Covid-19) het nou natuurlik ons almal op ’n wye ompad geplaas.

“Dis die einde van ’n era waarin die klub tot in die twee topligas in Engeland verrys het, ’n bekerfinaal op Twickenham gewen het, teen die elite spanne van Europa meegeding het en verskeie internasionale spelers opgelewer het.

“Dit is egter nou tyd vir ’n nuwe era. Nasionale liga 1 volgende seisoen gee ons kans om die klub te herbou, om oor ons kultuur en beginsels en waardes te herbesin en dit behoorlik te vestig.

“Ons wil weer ’n werkverhouding met die universiteite in ons stad laat herleef, asook met die sakesektor en die algemene rugbypubliek, en wil nuwe maniere vind vir die mense van Leeds om weer trots op hul rugbyklub te wees,” het Davies gesê.

In die afgelope seisoen het Yorkshire Carnegie geen wedstryd gewen nie en net twee verloorbonuspunte verdien.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!