Kwarantynfasiliteite by Nababeep ondersoek
Kwarantynfasiliteite by Nababeep ondersoek

Kwarantynfasiliteite by Nababeep ondersoek

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Demokratiese Alliansie in Suid-Afrika het dié land se Menseregtekommissie (SAMRK) versoek om alle Noord-Kaapse kwarantyn- en isolasiefasiliteite te ondersoek en te evalueer.
Onder dié geriewe is die staatshospitaal (foto) op Nababeep waar Namibiërs en ander mense wat deur Namibië na die Wes-Kaap en ander dele in Suid-Afrika op reis is, 14 dae in kwarantyn moet deurbring.
Republikein het vroeër die week berig oor twee Namibiese vroue en die een se 16-jarige dogter wat bekommerd is oor moontlike gesondheids- en veiligheidsgevare by dié hospitaal.
Hulle is mee. Leigh van Zyl en Marié Liebenberg, en Van Zyl se dogter, Mia. Die vroue is Vrydag daar in kwarantyn geplaas. Hulle is onderweg na Stellenbosch waar Mia, haar broer, en Liebenberg se seun skoolgaan.
Die twee seuns, beide in graad 12 by Paul Roos Gimnasium, het vroeër al Kaap toe gevlieg aangesien die Suid-Afrikaanse graad 12’s Maandag sou teruggekeer het skool toe. Dit is intussen tot 8 Junie uitgestel.
Die versoek vir die ondersoek is deur dr. Isak Fritz, DA-parlementariër en kiesafdelingshoof van Namakwaland, gerig.
Fritz sê in ’n kennisgewing van die DA in die sosiale media die versoek volg op die verspreiding van "skokkende foto’s" van die Nababeep-hospitaal wat 28 pasiënte kan huisves.
“Die DA is woedend oor die feit dat inwoners, veral diegene wat via Namibië na Suid-Afrika reis, by hierdie verskriklike fasiliteit moet bly aangesien dit gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir inwoners inhou, wie se regte dit ook skend.
“Die Nababeepse fasiliteit is ’n ou gemeenskapsgesondheidsentrum wat hoofsaaklik gebruik was om TB-pasiënte te behandel,” het Fritz volgens berigte in die Suid-Afrikaanse media gesê.
“Hierdie kwarantynfasiliteit maak ‘n bespotting van die koronavirus-pandemie en voldoen geensins aan die riglyne vir kwarantyn- en isolasiefasiliteite met betrekking tot blootstelling en infeksie met die koronavirus nie.
“Ons verwag dat dringende veranderinge aangebring moet word ten opsigte van gepaste kwarantynverblyf op Nababeep. As alternatiewe oplossing, moet mense wat in kwarantyn geplaas word, toegelaat word om selfkwarantyn te onderneem in ‘n fasiliteit wat aan die basiese gesondheids- en veiligheidstandaarde voldoen,” het Fritz volgens find-it.co.za gesê.
Van Zyl het intussen aan Republikein gesê hulle is deur die gesondheidsowerheid in die Noord-Kaap toegelaat om oor te skuif na ’n karavaanpark by Springbok.
Hulle betaal om daar gekwarantyn te word en moet ook self kos koop.

Foto: Verskaf

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer