Kwesbare o.19u2019s op agtervoet in WB-wedloop
Kwesbare o.19u2019s op agtervoet in WB-wedloop

Kwesbare o.19’s op agtervoet in WB-wedloop

Namibië kon gister nie die wenteiken van 130 lopies teen Nigerië haal nie.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - ’n Onrusbarende nederlaag teen Nigerië op die openingsdag van die kwalifiserende toernooi is ’n vuishou in die maag van die Namibiese o.19-span se hoop om ’n plek by volgende jaar se Wêreldbeker oop te speel.

By die Wanderers-veld het Nigerië gister 129/8 in sy 50 boulbeurte opgestel – wat sekerlik nooit genoeg vir ’n oorwinning teen Namibië moes wees nie, wat nog te sê ’n sege met 52 lopies.

Daar is net een oop posisie vir ’n Afrika-kwalifiseerder by 2020 se Wêreldbeker vir o.19’s, wat in Suid-Afrika gehou word. Ná gister se uitslag is dit geen uitgemaakte saak dat Namibië die pyp gaan rook nie.

Uit die elf weergawes van die o.19 Wêreldbeker sover sedert 1998, was Namibië net twee keer afwesig, by geleenthede wanneer hy benewens Afrika ook op ’n groter toernooi moes kwalifiseer.

Gister se uitslae, met Uganda en Sierra Leone wat ook onverwagse oorwinnings teen onderskeidelik Kenia en Tanzanië behaal het, bied die skrale troos vir afrigters Dee Thakur en Gareth Cloete dat die stryd nie voor die finale dag van die uitduntoernooi gewonne gegee kan word nie.

Nigerië het gisteroggend die loot gewen en gekies om eerste te kolf.

Die Wes-Afrikane se kolftempo was maar 2.58 per boulbeurt teen die tyd dat hulle hul 50 boulbeurte op 129/8 afgesluit het.

Samuel Mba se geduldige 25 lopies van 90 balle, sonder ’n enkele grenshou, was uiteindelik die hoogste telling van die ganse wedstryd. Sy spanmaat en nommer 7-kolwer Miracle Ikaige het 22 onoorwonne lopies van 48 balle bygedra.

Vir Namibië het die naatbouler Jan-Izak de Villiers 2/18 in sy tien boulbeurte platgetrek, terwyl die draaier Mauritius Ngupita met 3/16 in 10 selfs nog ’n fraksie beter was.

“Ons span het gedissiplineerd geboul, maar dit het gelyk asof ons tevrede was om Nigerië toe te laat om 130 as ’n teiken te stel,” sê die voormalige Namibiese kaptein en deesdae raadslid van Krieket Namibië, Deon Kotzé.

“Ons naatboulers kon ’n bietjie voller geboul het en ons veldwerk het ná ’n goeie begin afgeplat. Ons moes hulle nie toegelaat het om meer as 100 te kry nie.

“Ons kolfwerk was vand ie begin af baie tentatief, met geen poging om die druk na die boulspan te verplaas nie. Ons het veral swak tussen die paaltjies gehardloop en het nooit enige dringendheid gewys met enkellopies nie.

“Klein teikens word gejaag deur positiewe kolf- en hardloopwerk.”

In ’n treurmare van ’n kolfbeurt is Namibië vir 77 almal uitgeboul.

Ramon Wilmot, ’n oorblywende lid van laasjaar se toerspan na Nieu-Seeland, het as aanvangskolwer 19 van 43 balle behaal (1x4), maar aan die ander kant het JC Balt (0), Henry Brink (6) en kaptein Divan la Cock (4) almal hul paaltjies verloor voordat Wilmot se vertrek die gasheerspan op 38/4 ná net 13.2 boulbeurte in die knypgelaat het.

Ettienne Beukes (0) en Dian Neethling (5) kon ook nie hond haaraf maak nie.

Matthew de Gouveia het sy bes gedoen om hom in te grawe vir 17 lopies van 46 balle (1x4), maar Jan-Izak de Villiers (8), Mauritius Ngupita (4) en Eric Willson (0) was die laaste manne uit, met die doodsklok wat ná 32.3 boulbeurte weerklink het.

Nigerië se draaibouler Sylvester Okpe is as speler van die wedstryd aangewys, ná sy vertoning van 3/16 in 7 boulbeurte. Sy slagoffers was Wilmot (uitgevang), Neethling (gevang en geboul) en De Villiers (geboul), terwyl hy ook die vangskoot benut het om De Gouveia te laat terugstap.

UGANDA KLOP KENIA

By Affiespark het Uganda gister die hoogste totaal van die dag aangeteken (206 almal uit), op pad na hul sege met 70 lopies teen hul buurland Kenia.

Vyftigtalle deur paaltjiewagter Ashiraf Senkubuge (56) en kaptein Frank Akankwasa (62) in ’n vennootskap van 126 was deurslaggewend. Akankwasa is as speler van die wedstryd aangewys.

Ondanks ’n bietjie weerstand deur Kenia se kaptein Sukhdeep Singh (31) is sy span vir 136 almal uitgeboul.

• By die United-veld het Sierra Leone (126 almal uit) die aanslag van Tanzanië (99 almal uit) afgeweer om met 27 lopies te wen.

• Vandag se wedstrydbepalings (spel begin om 09:30): Namibië teen Tanzanië by Affiespark; Uganda tn Sierra Leone by Wanderers; Kenia tn Nigerië by United.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!