Kyk jou stam uit die boom
Verlede week moes Hermanus Benjamin mondeling doen oor sy stamboom.
In die proses leer die gesin, en groter familie des Boois en verwante sommer weer 'n hele klomp feite. Van dit reeds vergete, van dit splinternuut.
Soveel so dat daar die afgelope naweek nog wild en wakker op WhatsApp oor die nasate se geskiedenis gekwetter word.
Uit die staanspoor wil die uwe benadruk dat hy teen etniese verkramptheid en stamgebondenheid gekant is, maar so waar as die son opkom en ondergaan, het elkeen van ons 'n verlede – waarop ons trots behoort te wees.
Danksy jarelange navorsing deur my broeder Frederik kon ons gou deel van die diagram op 'n plakkaat aanbring. Vir die hele bos se bome (dies wat nog regop staan en dies wat onlangs en in die jare toet al geval het) is daar veels te min plek, so ons trek maar net strepies vir die eerste vier geslagte.
Omdat ons net vanaf Ben ondertoe werk, lyk dit soos 'n onderstebo boom, maar 'n regte stamboom begin natuurlik onder en steek al sy baie takke na bo uit.
So leer ons knapie hoe familiename oorgedra word. Hy het wyle Oupa HB s'n gekry, wat ook Oupa HP se Oupa Le Roux s'n was.
Nou weet hy hy is 'n negende geslag Booysen in Suider-Afrika.
Hy weet Boysen, met die een o, is 'n van wat ons oergrootjie rondom die jare 1670 vanaf Noord-Duitsland na die Kaap gebring het. En hy ontdek die wonderwêreld waarin buiten vir die Germaanse bloed, ook die nalatenskap van Franse Hugenote en Iere (via ma-lief Josie) oor meer as 250 jaar saamgeklits is om aan hom sy unieke karakter te besorg.
Hy leer waar die Duddy's, Nels, Pelsers, Le Roux's, Mosterts, Brands en Nienabers inpas en hoe vinnig 'n mens 'n hele agt grootjies bymekaar kan maak. Hoe vanaf die kant des Boois ons voorfamilie later in die Karoo en Noord-Kaap geboer en uiteindelik in Namibië in die omgewing van Kalkrand en Rehoboth op die plase Witsand en Itaga beland het.
Sy oupagrootjie, FJ (Frederik Johannes), is in 1883 gebore en het deur die Anglo-Boereoorlog en beide Wêreldoorloë geleef. Sjoe!
Natuurlik is daar in onse boom ook inheemse bloed daar doer van Afrika se suidpunt – iets waaroor ons nié soos sommige ander dalk skelm agter gebakte hande skinder nie. Dit is dan wie ons is.
In die oudae is stambome getrou neergepen; soms voor in familiebybels.
Vandag is dit 'n ope vraag hoe baie mense nog hul familiegeskiedenis verder as twee of drie geslagte kan terugspoor. Geskiedenis is vir baie jongmense glo vervelig en onbelangrik.
Hoe kan ons egter onsself in die groter omwentelinge van die mensdom plaas as ons nie ons eie private verlede binne hierdie groter konteks begryp nie?
George Santayana het gesê die familie is een van die natuur se meesterstukke. Volgens Bruce Feiler aanvaar en vier suksesvolle families (en dus mense) hul geskiedenis – vernaam ook mislukkings en terugslae. “Sondes” moet dus nie toegesmeer word nie.
Wie't gesê huiswerk is nie lekker nie? En dat ouers nie ewe veel, en selfs meer as hul kinders, uit sulke pret kan leer nie?
Kyk jou “stam” 'n bietjie uit die boom.
Wat 'n mens is, maak jou ryk. En anker waarheen jy onderweg is.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie