Kyron is 'n man van staal!

“Elke moontlike uitdaging wat 'n atleet kan ervaar,” is hoe hy die afgelope naweek se byeenkoms beskryf.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Kyron Raad, die ultra-langasem en elite uithouatleet van Windhoek, het Sondag in Mpumalanga aan die Mac Mac-ultraveldmarathon oor 80 kilometer deelgeneem.

Raad het 'n uitstekende derde posisie vanaf Graskop na Sabie in die nat en koue weer in 10 ure 03 minute 28 sekondes opgeraap. Hy deel die podiumplek gesamentlik met Douglas Wood, terwyl die wenner, Louis le Grange, in 9:16:12 vir Jansen Pretorius met 9:56:39 tweede laat.

Sy gemiddelde spoed vir die 50-myl­roete oor berge en dale was 'n verstommende 7.97 kilometer per uur. Wat die deelnemers se prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat hulle altesaam 4.65 km as vertikale klimhoogte oor gladde rotse en gietende reën moes bestyg.

Wat op gaan, moet af ook, het Raad aan Republikein van sy ondervinding in die berge vertel.

“Ek het 'n uitstekende uitslag in die Mac Mac-ultramarathon behaal. Dit was gaaf om ten einde laaste 'n podiumposisie in die elite ope-afdeling teen 41 geharde hardlopers te bewerkstellig. Welgedaan aan Douglas Wood!

“Die Mac Mac is boonop 'n kwalifiserende kompetisie vir die jaarlikse Ultra Trail du Mont-Blanc enduro-marathon wat van 23 tot 29 Augustus in die Alpe tussen Frankryk, Italië en Switserland plaasvind. Ek het drie punte met my poging verdien, wat uiters gaaf is!

“Die roete is skouspelagtig, maar dit was nat, koud en ietwat senutergend in die berge weens 'n koue front wat vanaf die Kaap ingestoot het. Vanaf Towerbos moes ons ses kilometer daal en dié gedeelte by die Mac Mac-rivier sal ek nooit vergeet nie.

“Die weer het sake bemoeilik en by tye was ek baie onseker wat voorlê. Vanaf Mount Moodie na Mount Anderson was dit nóg kouer en ek was senuweeagtig of ek die koue sou baasraak. Ek was ook bevrees dat ek myself te hard gaan druk en dit kan veroorsaak dat ek tou moet opgooi. Ek het bly glo en hoop dat ek myself nie gaan uitbrand nie en het daarin geslaag om die pas vol te hou.

“Uiteraard is ek ingenome met my derde plek en is bly dat ek dit kon vermag. Die roete was ongelooflik tegnies, met die bospaadjies in die woude oordek met mos en gladde rotse.

“Die kompetisie was fantasties, maar het elke moontlike uitdaging gestel wat 'n atleet kan ervaar. Die gedeelte by Towerbos was natuurlik die ergste en het my tegniese vaardighede tot die uiterste beproef.

“Dit is een van die bes georganiseerde kompetisies waaraan ek nóg deelgeneem het. Die organiseerders was bekommerd oor die koue front, maar genadiglik het alles goed afgeloop.

“Hierdie uitdaging het my opnuut laat besef hoe gek ek oor dié sport is. Dit is net jy en die skepping, wat jou persoonlike ewewig verbeter en jou laat besef hoe klein en nietig ons as mens in die natuur is.

“Ek is dankbaar teenoor my gesin vir hul onvoorwaardelike bystand. Baie dankie aan my wonderlike vrou, Carola, asook my kinders Michael en Naomi vir hul geloof in my en hul ondersteuning.

“Baie dankie aan Brandon Johnson vir sy wysheid as vriend. Al kon hy nie self deelneem nie, het hy my voor die marathon moed ingepraat. Jy is 'n wonderlike positiewe vriend. Dankie aan Lelanie Swart vir jou professionele bystand en jou koelkop. Baie dankie aan Swart en Vennote biokinetikusse.”

Weens die wêreldwye indringing van Covid-19 is verlede jaar se Ulta Trail du Mont-Blanc enduro-marathon afgestel. Dié uitdaging sal vanjaar hervat en indien niks voorval nie, sal Raad soos tevore opnuut die Namibiese vlag in die Alpe laat wapper.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!