Kyron vernietig topteenstand
Die fiksheidsvraat het in 'n virtuele uitdaging gewys wat 'n kanniedood hy is.
Tielman van Lill
Die 38-jarige Kyron Raad van Windhoek het onlangs die virtuele Ultra Trail Du Mont Blanc-uitdaging (UTMB) oor 50 kilometer teen gerekende internasionale teenstand gewen.
Dié kompetisie wat van 20 Julie tot 30 Augustus aangebied was, is deur duisende vasberade ultra-atlete aangepak wat weens Covid-19-inperkings nie vanjaar aan dié gekanselleerde jaarlikse byeenkoms by Chamonix-Mont-Blanc, Switserland, kon deelneem nie.
Net 1 801 uit die oorspronklike 3 510 deelnemers kon die afstand (50 km) met 'n totale klimhoogte van 2 500 meter suksesvol voltooi. Raad, wat vir die jaarlikse UTMB oor 100 km gekwalifiseer het, het in 6 uur 01 minuut 42 sekondes die eerste plek met 28 sekondes voor Said Lòpez van Colombia in 6:02:10 weggeraap. Lou Clifton van Australië was derde in 6:06:09.
Deelnemers se aktiwiteit gedurende hul deelname is met die erkende wêreldwye posisioneringstelsel (GPS) gemonitor. Raad het tydens sy aanslag nie 'n enkele keer gerus nie en was vir die hele tydperk aktief.
Raad vertel: “Dit was 'n lekker koue wintersoggend toe ek op 30 Augustus om 05:40 by Avis oos van die hoofstad met my marathon begin het. Ek het meer as 30 keer die roete na die watertoring en die koppies in die omliggende omgewing aangedurf en altesaam 2 750 meter se klimme afgehandel om die vereiste 2 500 merk te oortref.
“Ek het goed gevoel en nie een keer my pas verslap of gestop om asem te skep nie. My sterkpunt is die klimgedeeltes en op pad af het ek die tegniese uitdagings terdeë geniet. Dit was 'n goeie geleentheid vir my om die lewe in oënskou te neem en alledaagse dinge in perspektief te plaas. Ek is dankbaar vir die Vader se beskermende hand wat my deurgaans veilig gehou het.”
Raad, met 653 internasionale ranglyspunte, word deur die Internasionale Trail Running-vereniging as Namibië se nommer een mededinger op dié spesialisgebied gereken. Hy was in Desember 2019 sewende algeheel in die 65 km-afdeling by die Kaapstad Ultra Trail-kompetisie, nadat hy agt maande tevore algeheel agtste by die Drakensberg-ultramarathon oor 62 km was.
Raad moes sy vliegtuigkaartjies na Switserland vir die 2020 UTMB kanselleer wat van 24 tot 31 Augustus sou plaasvind. Sy inskrywing en kwalifikasie is steeds geldig vir volgende jaar se avontuur in die Alpe wanneer die coronavirus hopelik genoegsaam aan bande gelê sal wees om internasionale reise en sportbyeenkomste te laat hervat.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie