Laaste bal, laaste kans

Rugby
Dani Booysen
Die sewende Wêreldbeker-rugbybal onderteken deur Namibiese spanlede in Namibia Media Holdings se veiling ten bate van die Amos Meerkat-projek vir kleuterskole behoort aan mnr. Chris Matthee en sy vrou Isabel.

Die bod van N$1 510 is Sondag op Isabel toegeslaan. Sy het die biewerk gedoen namens Chris, wat Bank Windhoek se uitvoerende beampte vir kleinhandelbankdienste is.

Dit stoot die projek se totale opbrengste verby N$9 500.

Chris is 'n groot rugbyfundi en doen reeds vir 15 jaar regstreekse rugbykommentaar vir radio. Hy beskryf die uitsaaiwerk as 'n ongelooflike groot voorreg wat sy are elke keer met adrenalien vul. Chris het as kind voor die radio grootgeword met legendariese omroeperstemmer soos dié van wyle Gerhard Viviers.

“Dit is eintlik baie bemoedigend en positief vir my hoeveel ondersteuning daar van die breë publiek se kant af vir so 'n goeie saak is,” sê hy oor die veiling.

Chris en Isabel reken beide die Springbokke sal Saterdag die trofee inpalm. Chris voorspel 'n paar verrassings in Suid-Afrika se spelpatroon.

Die vaskopflankbal se nommer (7) het nou huis gekry en net 'n agtsteman moet nog die kop in die skrum druk vir die laaste versamelstuk op die spel. Dié veiling sluit vandag om 17:00.

Hou Republikein se Facebook-blad môreoggend regstreeks dop vir die oorhandiging van opbrengste aan die Amos Meerkat-projek.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer