Laaste betogers by universiteit in Hongkong staan vas
Laaste betogers by universiteit in Hongkong staan vas

Laaste betogers by universiteit in Hongkong staan vas

’n Handvol betogers is nog op die kampus van die Politegniese Universiteit in Hongkong, nadat meer as ’n duisend mense die naweek die kampus beset het te midde van die voortslepende onrus in die stad wat reeds vir maande lank duur.

Die oorblywende betogers het Woensdagoggend hul opsies oorweeg, terwyl die polisie buite die universiteit vir hulle wag om uit te kom.

Reuters berig sowat 100 betogers is steeds op die kampus en dat meer as ’n 1 000 sedert Maandag in hegtenis geneem is soos hulle die perseel verlaat het.

Party van die betogers het hulle bloot aan die polisie oorgegee, terwyl ander probeer ontsnap het, maar in die proses aangekeer is.

CNN berig die betogers het twee keuses: bly binne totdat voorrade opraak, of verlaat die universiteit en loop die risiko om met traanrook begroet te word en in hegtenis geneem te word, met die moontlikheid van tien jaar tronkstraf.

Van die betogers wat steeds vasgekeer is, het aan die media gesê dat hulle genoeg kos vir ’n week het en weet waar hulle gaan wegkruip.

Politici meen die Politegniese Universiteit en ander word deur die betogers as “wapenfabrieke” gebruik en lyk nou soos “militêre opleidingsterreine”.

Die polisie het sedert die naweek traanrook en waterkanonne afgevuur terwyl betogers gewapen met petrolbomme en pyle en boë daarop geantwoord het.

Teen Dinsdagoggend het die geweld bedaar, maar daar was groot skade op die kampus.

“Gaan nie opgee nie”

Die polisie het oornag ’n soeklig gebruik om die oorblywende betogers op die kampus op te spoor.

Een van die betogers wat net sy naam, Marc (26), verskaf het, sê hulle gaan nie nou opgee nie.

“Daar is nie meer baie van ons oor nie en hulle (die polisie) sal dalk wil inkom. Ons ken hierdie plek. Dit is ons huis en dit is ’n doolhof. Ons het wapens en ons gaan nie opgee nie. Dit is in elk geval te laat daarvoor,” sê Marc.

Die betogings in Hongkong het in Junie begin nadat ’n uitleweringswetsontwerp groot ontevredenheid onder die bevolking veroorsaak het.

Meer as ’n miljoen mense het teen dié voorgestelde wet betoog, en dit is mettertyd laat vaar.

Die betogings het egter voortgeduur oor eise vir volle demokratiese regte en dat Carrie Lam, Hongkong-leier, moet bedank.

Hulle eis ook optrede oor die gewelddadige wyse waarop die polisie die betogers hanteer. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!