Laaste hekkie vir aspirerende finaliste

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Krieket Namibië se eendagpremierliga môreoggend in die hoofstad het potensiaal om hoogs opwindende krieket te lewer.
Samsung FNB Wanderers 1, wat met 132 ligapunte eerste geëindig het, geniet tuisveldvoordeel in Pionierspark wanneer hulle om 09:30 teen Trustco United 1 (vierde op 48) op die veld stap.
By Windhoek Hoërskool se Vegkopstadion sal Ceiling Centre WHS Old Boys, die verdedigende kampioen in dié liga, die gasheer vir die eerste span van CCD Tigers wees. Old Boys, wat tweede met 117 op die punteleer klaargemaak het, moet die besoekende Tiere (derde met 89) uitskakel as hy weer in die finaal wil speel.
Old Boys en Tigers moet sonder hul gereelde kapteins, onderskeidelik Zane Green en Pikky Ya France, die semifinale aandurf.
Green is as topkolwer, paaltjiewagter en kaptein ongetwyfeld een van die mees invloedryke spelers in die premierliga.
Ya France is op sy beurt ’n paaltjievraat met sy draaiballe en kan ’n wedstryd as kolwer óf bouler op sy kop keer.
Old Boys en CCD se leiersposisies word nietemin deur ewe ervare spelers gevul. Gerhard Erasmus wat vir Green instaan, is die nasionale Eagles-spankaptein, terwyl Stephen Baard (vir Ya France) ook in die verlede die rol as Namibiese kaptein vervul het.

SLEUTELSPELERS
Wanderers is wel die enigste onoorwonne span – ’n getuigskrif vir sy diepte met ’n bewese wedstrydwenner in JJ Smit wat met ’n kniebesering lanklaas gespeel het. Manne soos draaibouler Bernard Scholtz of die veelsydige naatbouler en kolwer Karl Birkenstock het soms eiehandig beheer van die spel geneem.

Wanderers se grootste piesangskil was juis toe die einste United hom drie naweke gelede op Gemsbokpark so byna met goeie boul- en veldwerk ontspoor het. United het 144 opgestel voor hy Wanderers op 3/3 geskud het, maar Michau du Preez en sy maats in die middelorde het kopgehou om met vier paaltjies te wen.
Nicolaas Scholtz, kaptein van die Hingste, sê ’n halfeindstryd begin altyd op ’n skoon bladsy.
“Ons sien uit na die wedstryd. Met ’n semifinaal is dit ’n totaal ander scenario waar die speelveld gelyk is.
“Die druk in dié tipe botsings is natuurlik heeltemal iets anders as in ’n normale ligakragmeting.
“Ons laaste ligawedstryd teen United was ’n moeilike uitstappie. Ons neem hierdie halfeindstryd glad nie ligtelik op nie. Ons sien uit daarna en dit gaan ’n goeie wedstryd wees. Ons sal moet seker maak ons is reg voorberei vir United wat hierdie seisoen al hoe beter begin speel het,” het Scholtz verduidelik.
Lo-han Louwrens, wat môre weer die Filistyne teen Wanderers aanvoer, sê sy span sal die uitklopstryd sonder enige vrees aanpak.
“Ons het ’n paar weke terug teen Wanderers gewys ons kan hulle verras. Ons jong span het lekker begin saam speel en het niks om te verloor nie.
“As ons met ’n onverskrokke houding op die veld stap en ook so speel, kan ons verseker die wedstryd wen.
“Die jong manne kry weer ’n kans om hul hand op te steek om ’n verskil te kan maak. Dit is vir ons nog ’n geleentheid om te wys wat ons kan doen,” het die kaptein gesê.
Erasmus, wie se Old Boys-span selfs sonder Green gelaai met potensiële wedstrydwenners is, sê hul teenstanders het ewe gevaarlike individue.
“Old Boys is bevoorreg om in nog ’n semifinaal teen ’n sterk CCD-span te speel. Hulle het spelers van nasionale kaliber soos Stephen Baard, Nicol Loftie-Eaton en Ben Shikongo, om net ’n paar te noem, wat op enige dag ’n wedstryd se gang kan verander.
“Soos ons weet, is krieket onvoorspelbaar en as daai gevaarlike individue presteer, kan CCD dit ’n moeilike dag vir ons maak.
“Ons gaan die wedstryd met lekker momentum binne ná ons laaste oorwinning (met tien paaltjies) teen die Welwitschias laas Saterdag op Walvisbaai,” het Erasmus vertel.
Stephen Baard sê sy CCD Tigers-span wil sake regstel nadat die kans op ’n T20-semifinaal vroeër vanjaar vir hulle ontneem is.
“Nadat ons in Januarie weens reën nie in die T20-semifinaal teen Wanderers kon speel nie, moet ons Saterdag daarvoor vergoed. CCD het sy T20-premierligatitel weens die reën verloor en ek dink die spelers is gereed om sake reg te stel.
“Die manne wil hulself bewys en Saterdag sal ons die praatwerk op die veld moet doen. Old Boys het ’n baie goeie span en die botsing gaan beslis aan al die verwagtinge voldoen,” het Baard gesê.
Teen druktyd was die enigste beskikbare spanlys vir môre Trustco United I: Adam Bassingthwaighte, Nyashadzaishe Nyashe, Lo-han Louwrens (kaptein), Henry Hayes, Eben van Wyk, Brendan Britten, Tino Chiwara, Hendrik van der Walt, André Siepker, Dickson Vambe, Christiaan Delport, Damon Coetzee, Gerhard Janse van Rensburg.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!