Laaste musketier vind liefde

Leeuwyfies verwelkom Tullamore
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Dit gaan goed met die laaste oorlewende leeumannetjie van die Vyf Musketiers, Tullamore, en hy het dalk selfs die skoot hoog deur.
Woestynleeumannetjie Tullamore (Xpl-93), een van die vyf rolprentsterre in die internasionaal bekroonde, dokumentêre natuurrolprent Vanishing Kings, het tot by die Okongwe-watergat gestap waar die vier Okongwe-leeuwyfies hom Sondag met “ope arms” verwelkom het.
"Hul gedrag het gewys dat hulle bly is om hom te sien. Hulle het die mannetjie met liefdevolle kopskuurbewegings verwelkom en daar is selfs waargeneem dat hy met een van die wyfies, Xpl-104, gepaar het," sê dr. Philip Stander van die Woestynleeu-bewaringsprojek.
Volgens Stander het Tullamore die vorige nag 40,5 km gestap nadat hy aan 'n gemsbok gevreet het.
Dit is verblydende nuus ná sy drie broers, Ben (Xpl-91), Adolf (Xpl-92) en Polla (Xpl-90), se verbrande karkasse en satellietnekbande op Wêreldleeudag op 10 Augustus in die omgewing van Tomakas gevind is nadat hulle vergiftig is. Dit het gevolg nadat hulle 'n donkie gevang het.
Harry (Xpl-89), vernoem na prins Harry van Brittanje, is die eerste broer van vyf leeus wat reeds in Junie ná mens-dier-konflik vrekgeskiet is. Destyds is Harry se karkas met ’n koeëlwond in die borskas in die digte bosse by Otjizekafontein naby Tomakas gevind. Adolf en Ben was gekwes. Adolf het ’n wond op sy regterwang en Ben is deur sy maag geskiet met die koeël wat anderkant uit is.
Die vergiftigingstragedie van die drie leeus het plaasgevind nadat die ministerie van die omgewing en toerisme die verskuiwing van die vier oorblywende musketiers van Tomakas na die Uniab-delta goedgekeur het. ’n Vliegtuig was toe gereed om die leeus van Purros tot Terracebaai te neem. Voertuie sou die leeus van Tomakas via Purros en finaal van Terracebaai na die Uniabdelta vervoer het. Dit sou die laaste opsie wees om die voortgaande mens-dier-konflik te probeer oplos.
Met hierdie tragiese gebeure moes 'n besluit geneem word oor die lot van die enigste oorlewende leeu en saam met amptenare van die ministerie van die omgewing en toerisme is Tullamore verdoof en sy lang reis in die Woestynleeu-bewaringsprojek se voertuig is in 'n konvooi van drie voertuie na die Uniab-delta aangepak. Tullamore het egter ná verwagting ná agt dae weer teruggestap om na sy broers te gaan soek, onwetend dat hulle vrek is.
Intussen het die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, die onwettige vergiftiging van die drie musketiers skerp veroordeel en gesê ’n saak is by die polisie aanhangig gemaak om die skuldiges te vervolg.
Mnr. Peter Sander van TOSCO (Tourism Supporting Conservation) is die borg van Tullamore en het hom na 'n Ierse whiskey vernoem.
Die Woestynleeu-bewaringsprojek het onlangs verneem dat Tullamore in Frans as " Tue-la-mort" uitgespreek kan word, wat beteken “om die dood te oorwin".

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!