Laaste vesting wink vir Willemse
Rugby
Stephen Nell - Aanspreeklikheid sal die wagwoord wees wanneer John Dobson, die Stormers se afrigter, sy span vir môre se Superrugby-kragmeting teen die Haaie in Durban kies.
Dobson sou eers die span gisternamiddag laat in Stellenbosch aankondig, maar daar is betroubaar verneem dat hy besluit het om Damian Willemse na heelagter te skuif en vir Jean-Luc du Plessis op losskakel te kies.
Willemse het in die span se eerste vyf wedstryde nie na wens vertoon in die nr. 10-trui nie, terwyl Du Plessis ’n goeie indruk van die plaasvervangersbank af gemaak het.
Dié skuif sal waarskynlik beteken dat Dillyn Leyds vleuel toe skuif en Sergeal Petersen hom op die plaasvervangersbank sal bevind.
Dobson kan straks ook verras met sy keuse van losvoorspelers, met Johan du Toit en Ernst van Rhyn wat na verwagting die flanke gaan wees.
Van Rhyn sal die beseerde Pieter-Steph du Toit vervang, en Johan du Toit vir Jaco Coetzee. Coetzee het vandeesweek tydens ’n oefensessie ’n hou teen die nek gekry, maar was ook onder die spelers wie se werkverrigting hom in die steek gelaat het in die onverwagse nederlaag van 14-33 teen die Blues in hul laaste kragmeting.
Met ’n loslootjie agter die rug, het die Stormers nou oorgenoeg tyd gehad om hul sondes onder mekaar te bely en die tekenbord vol te skryf voor ’n wedstryd waarin hulle skielik ’n volslae buiteperd gaan wees.
Ofskoon Du Plessis self nie verlede jaar bestendig op losskakel was nie, behoort sy insluiting minstens die Stormers se skopwerk – pale toe en uit die hand – op te knap. Om ’n goeie linkervoet in hul arsenaal te hê, kan die Stormers ook nét baat.
Dobson beplan egter nie om Willemse vir die wolwe te gooi nie.
“As jy die wedstryd teen die Blues gaan bestudeer, sal jy sien dat die swak vertoning nie aan Damian toegeskryf kan word nie. Die probleem was die voorspelers se werkverrigting,” sê Dobson.
Die swak werkverrigting was volgens Dobson ook die rede dat dit gelyk het asof die Blues die Stormers fisiek boelie.
“Ons het die wedstryd forensies bestudeer. Die beeldmateriaal, asook die spelers se GPS-lesings, wys dat ons werkverrigting swak was. As jy nie gaan werk om in die regte posisie te kom nie, kan jy nie jou plek ordentlik in die (verdedigings-)linie inneem nie. Dán gáán jy fisiek oorheers word,” sê Dobson.
“’n Handvol van die spelers het gebieg oor hul vertonings en die span om verskoning gevra.”
’n Moontlike Stormers-span: Damian Willemse, Seabelo Senatla, Ruhan Nel, Jamie Roberts, Dillyn Leyds, Jean-Luc du Plessis, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Johan du Toit, JD Schickerling, Chris van Zyl, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff (k). - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie