Laaste week vir Kankerappels
Laaste week vir Kankerappels

Laaste week vir Kankerappels

Henriette Lamprecht
Bank Windhoek is die afgelope drie weke druk besig om as deel van sy Kankerappelprojek appels landwyd te versprei.

Vanjaar se tema vir die veldtog wat Woensdag ten einde loop, is “Meer as ‘n Appel – ‘n Vrug van Hoop”. Die appels kos N$5 elk. Volgens Bank Windhoek se koördineerder vir borgskappe en geleenthede, asook die veldtog se projekbestuurder, me. Suzette January, verloop dit ondanks die huidige ekonomiese krisis klopdisselboom.

“Ons is byna klaar met die tak- en private verkope. Die aflewering van bestellings vir skole begin die eerste week van September,” het January gesê.

Verlede jaar het die projek 760 000 appels versprei wat saam met die entrepreneursuitdaging aan takke en departemente van die bank N$3 miljoen ingesamel het. Die geld is aan die Kankervereniging van Namibië (CAN) oorhandig.

“Met die ondersteuning wat ons tot dusver gekry het, is ons vol vertroue dat ons sal voortgaan om ‘n betekenisvolle bydrae tot CAN te kan maak.”

Tussen Maart 2018 en 28 Februarie vanjaar het CAN 3 778 women vir servikale kanker getoets en is 31 bevestigde kankergevalle in al 14 streke behandel. Meer as 4 500 kliniese borsondersoeke is uitgevoer. ‘n Totaal van 788 mans is vir prostaatkanker getoets van wie 54 verwys en 17 prostaatkankerdiagnoses bevestig is.

Die kankerappelveldtog is in 2000 van stapel gestuur en is een van Namibië se mees suksesvolle geldinsamelingsveldtogte op die gebied van gesondheid die afgelope 19 jaar.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer